Die AGV ('n afkorting van die Franse Automotrice à grande vitesse) is 'n nuwe reeks Franse hoësnelheidstreine wat deur die maatskappy Alstom vervaardig en as opvolger van die TGV beskou word. Die trein is aanvanklik as 'n gemeenskaplike projek van Alstom en die Franse spoorwegmaatskappy SNCF ontwikkel, maar SNCF het sy deelname later beëindig.[1] Die nuwe trein, wat in tegniese opsig die vierde generasie van TGV-hoësnelheidstreine verteenwoordig, is uiteindelik deur Alstom teen 'n koste van sowat € 100 miljoen ontwikkel, en die eerste treine is in 2010 in bedryf gestel.
Die tegniese hoofverskille teenoor die voorloper TGV is die hoër togsnelheid (360 km/h teenoor die TGV se 320 km/h), meer sitplekke (615) en nuwe enjins wat - net soos by die Duitse hoësnelheidstrein ICE - nou oor die hele lengte van die trein verdeel is. In vergelyking met die TGV sal die AGV se nuwe enjins ook energiebesparend wees. Die AGV se massa is ook in vergelyking met ander tipes hoësnelheidstreine verminder sodat die totale energiebesparing tot 30 persent beloop.