Bestaansboerdery is selfgenoegsaamheids-boerdery waar boere daarop fokus om genoeg kos te produseer om hulself en hul gesinne te voed. Die uitset is meestal net genoeg vir eie behoeftes en daar is gewoonlik min oor om te verkoop. Die tipiese bestaansboer het 'n reeks van gewasse en diere om hom en sy gesin deur die jaar van kos en kledingstukke te voorsien. Die besluit oor wat aangeplant gaan word berus grotendeels op dit wat sy gesin vir die jaar gaan nodig hê, en sekondêr wat die markpryse is. Die volhoubaarheid van bestaansboerdery: dit is die lewe laer as die vlak van die markgerigte kleinboere. Hulle is die mense wat genoeg verbou wat hulle nodig het om aan die lewe te bly, bou hul eie huise, en oorleef sonder om gereeld op die markte voorrade te gaan koop. "Afgesien van die noodsaaklikheid van selfgenoegsaamheid in bestaansboerdery, is die hedendaagse bestaanboere tog in 'n mate betrokke by die verkoop van hul landbouprodukte, maar dit is in die meeste gevalle vir goedere wat hulself nie nodig het vir oorlewing nie, en kan suiker, yster dakplate, fietse, tweedehandse klere, en so meer insluit. Die meeste bestaansboere is deesdae in ontwikkelende lande. Hoewel die omvang in die handel, gemeet in harde kontant, minder is as die van verbruikers in lande met moderne markte, het baie van hulle belangrike handelskontakte en handelsware omdat hulle vanweë hul spesiale vaardighede, of besonderse toegang tot grondstowwe, in aanvraag is op die markte," American Journal of Agricultural Economics.
Die bestaansboerdery in graan (hoofsaaklik koring en gars) is die eerste keer gedurende die Neolitiese Revolusie gedokumenteer toe mense langs die Nylrivier, Eufraat, en die Indus-valleie begin bly het. Bestaansboerdery het ook onafhanklik in Meksiko begin met mielieboerdery, en met aartappels in die Andes.
Bestaansboerdery is steeds aan die orde van die dag in groot dele van Afrika,[1] en dele van Asië en Latyns-Amerika. Dié soort boerdery het teen die begin van die Eerste Wêreldoorlog grootliks in Europa, en in Noord-Amerika, met die koms van die deelboere en huurder-boerdery in die 1930s en 1940's verdwyn.[2] Dit was egter nog so onlangs soos in die 1950's 'n algemene verskynsel op familieplase in Noord-Amerika en Europa dat gesinne die meeste van hul eie voedsel en klere geproduseer het, hoewel die verkope van sommige van die plaasprodukte genoeg geld ingebring het om sekere stapels soos suiker, koffie, tee, brandstof (petrol en lampolie), tekstielprodukte soos kledingstukke, naalde, garing, medisyne, hardeware produkte soos spykers, skroewe en draad, en 'n paar luukshede soos lekkers en boeke, te kon koop. Baie van die bogenoemde items, sowel as sosiale dienste van 'n dokter, veearts, hoefsmid en ander is dikwels met ruilhandel betaal, eerder as met geld. Bestaans- en semi-bestaansboerdery het weer sedert 1990 in Sentraal- en Oos-Europa binne die oorgangsekonomie lewe gekry.[3]