Huis van Borgia | |
---|---|
Die Borgias se wapen
| |
Lande | Spanje, Italië, Frankryk |
Stigter | Alfonso Borgia |
Laaste heerser | Rodrigo Borgia |
Stigting | 1455 |
Ontbind | 1672 |
Huidige hoof | Rodrigo Borja Cevallos |
Etnisiteit | Spaans |
Die Borgia-familie (Italiaans: [ˈbɔrdʒa], Spaans: Borja [ˈborxa], Katalaans: Borja [ˈbɔɾdʒa]) was 'n skatryk Spaans-Italiaanse familie in die 15de en 16de eeu.[1] Die familie word onthou vir hulle wrede vasberadenheid om politieke mag te bekom en hul korrupte houvas op die pousdom tydens die Renaissance. Daar word selfs beweer dat hulle die eerste kriminele familie, 'n voorloper van die Italiaanse mafia, was.[2] Onder die talle beskuldigings teen die familie was bloedskande, owerspel en selfs moord.[2]
Toe Alfonso (die biskop van Valencia) 'n kardinaal word, vestig die familie hulself in Italië. Hulle was oorspronklik van Borja in Aragón (Spanje) afkomstig. In 1455 word Alfonso tot pous verkies en neem hy die naam Callixtus III aan. Vanuit dié amp het hy sy familielede vir belangrike posisies benoem.
Die familie se patriarg, Rodrigo Borgia (1431–1503), 'n neef van Alfonso, word eers 'n biskop, toe kardinaal (1456) en later adjunk-kanselier van die Heilige Stoel.[3] In 1492 word hy die pous onder die naam Alexander VI. Hy vervul hierdie funksie vir elf jaar.
Rodrigo Borgia se seun en dogter was Cesare Borgia (1476–1507) en Lucrezia Borgia (1480–1519). Lucrezia Borgia het die hertogin van Ferrara geword en het die beste skrywers en kunstenaars genooi om by haar tuis te gaan. Haar broer Cesare Borgia was ’n suksesvolle soldaat en heerser. Die prins in Niccolò Machiavelli se boek Die vors is op hom gegrond.
Ná die dood van Alexander VI (in 1503) verloor die familie egter baie van sy invloed.