Dadelpalm | |
---|---|
Dadels aan 'n dadelpalm | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Plantae |
Klade: | Tracheofiete |
Klade: | Angiospermae |
Klade: | Eensaadlobbiges |
Klade: | Commelinids |
Orde: | Arecales |
Familie: | Arecaceae |
Genus: | Phoenix |
Spesie: | P. dactylifera
|
Binomiale naam | |
Phoenix dactylifera | |
Sinonieme[1] | |
|
Phoenix dactylifera, algemeen bekend as die dadelpalm,[2] is 'n blomplantspesie in die palmfamilie, Arecaceae, wat vir die eetbare, soet vrugte daarvan verbou word. Alhoewel die presiese herkoms van die spesie onseker is weens die verbouing daarvan oor millenia, is dit besmoontlik uit die Vrugbare Halfmaan afkomstig wat strek van Egipte tot Mesopotamië.[3] Die spesie word algemeen verbou regoor Noord-Afrika, die Midde-Ooste en Horing van Afrika, tot in Suid-Asië, en is wêreldwyd in etlike tropiese en subtropiese streke genaturaliseer.[4][5][6] P. dactylifera is die tipe-spesie van die Phoenix-genus, wat tussen 12 en 19 spesies wilde dadelpalms bevat, en is benewens die hoofbron van kommersiële produksie.[3]
Dadelpalms bereik tipies 'n hoogte van sowat 21–23 meter,[7] en kan 'n een- of meerstammige groeivorm uit 'n enkele wortelstelsel aanneem. Dadelpalmvrugte (dadels) is ovaal-silindries gevorm en kan na gelang van die variëteit helderrooi tot -geel van kleur wees. Massagewys bestaan tussen 61 en 68 persent van die vrug in gedroogde vorm uit suiker, en die vrugte is gevolglik baie soet.[8]
Oor millenia is dit 'n stapelvoedsel in die Midde-Ooste en die Indusvallei, en argeologiese getuienis dui aan dat dadels reeds van die 6de millennium v.C. af in Arabië verbou word. Die jaarlikse wêreldproduksie van dadels beloop 8,5 miljoen metrieke ton, en lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika is die vernaamste produsente.[9]