Die Friese is in beide Nederland en Duitsland 'n erkende minderheid (in Duitsland saam met Dene, Roma en Sorbe[3]) en leef veral langs die kus van Friesland, Groningen, Nedersakse en Sleeswyk-Holstein, waar ook die drie Friese tale amptelike erkenning geniet.
Die etniese groep van die Friese word verdeel in drie subgroepe met drie moedertale:
die Noord-Friese van Noord-Friesland in Sleeswyk-Holstein, wat verband hou met Noord-Fries en sowat 60 000 mense omvat. Noord-Fries word deur sowat 10 000 mense gepraat.[4]
die Oos-Friese van Oos-Friesland in Nedersakse, wat verband hou met Oos-Fries (nou Saterfries) en sowat 2 250 mense omvat. Saterfries word deur sowat 2 000 mense gepraat.[5]
die Wes-Friese van Wes-Friesland in Friesland en Groningen, wat verband hou met Wes-Fries en sowat 660 000 mense omvat. Wes-Fries word deur sowat 470 120 mense gepraat.[6]
Die etniese groep van die Friese is reeds sedert die Antieke tydperk bekend en is deur die Antieke RomeineFrisii en deur die Antieke Grieke οι Φρίσσιοι of Φρείσιοι genoem. Hulle het reeds voor die Groot Volksverhuising aan die Rynmonding geleef. In die vroeë 7de eeu het die Friese hul eie koninkryk (Fries: Fryske Keninkryk, Latyns: Magna Frisia) opgerig wat in 750 sy grootste uitbreiding bereik en in konflik met die suidelike Frankiese Ryk gekom het.