Genesis (Grieks Γένεσις = ontstaan ; Hebreeus בראשית beres'jiet = in die begin) is die eerste boek van die Joodse Tanag, die Samaritaanse Pentateug asook die Christelike Ou Testament (ook Hebreeuse Skrifte genoem). Dit is sodoende die eerste boek van die Bybelse kanon.
Die boek is 'n verslag van die skepping van die wêreld, die vroeë geskiedenis van die mensdom, en van Israel se voorvaders en die oorsprong van die Joodse volk.
Tradisie erken Moses as die skrywer van Genesis, sowel as die boeke Eksodus, Levitikus, Numeri en die meeste van Deuteronomium, maar moderne geleerdes, veral vanaf die 19de eeu, sien dit as geskryf honderde jare nadat Moses veronderstel was om te leef, in die 6de en 5de eeue vC. Gebaseer op die wetenskaplike interpretasie van argeologiese, genetiese en linguistiese bewyse, beskou die meeste geleerdes Genesis as hoofsaaklik Joods-Christelike mitologie eerder as histories.
Genesis is in twee dele verdeel, die oergeskiedenis (hoofstukke 1–11) en die voorvadergeskiedenis (hoofstukke 12–50). Die oergeskiedenis sit die skrywer se konsepte uiteen van die aard van die godheid en van die mensdom se verhouding met die skepper daarvan: God skep 'n wêreld wat goed en geskik is vir die mensdom, maar wanneer die mens dit met sonde bederf, besluit God om sy skepping te vernietig, wat net die regverdige Noag en sy gesin spaar om die verhouding tussen mens en God te hervestig. Die voorvadergeskiedenis (hoofstukke 12–50) vertel van die voorgeskiedenis van Israel, God se uitverkore volk. Op God se bevel, Abraham se reise vanaf sy geboorteplek (beskryf as Ur van die Galdeërs) na die godgegewe land Kanaän, waar hy as 'n bywoner woon, net soos sy seun Isak en sy kleinseun Jakob. Jakob se naam word verander na "Israel", en deur die agentskap van sy seun Josef, verhuis die kinders van Israel na Egipte toe, altesaam 70 mense met hul huishoudings, en God belowe hulle 'n toekoms van grootheid.
Genesis eindig met Israel in Egipte, gereed vir die koms van Moses en die uittog. Die vertelling word gekenmerk deur 'n reeks verbonde met God.
In Judaïsme sentreer die teologiese belangrikheid van Genesis op die verbonde wat God verbind met sy uitverkore volk en die volk met die Beloofde Land. Die Christendom interpreteer Genesis as die prefigurasie van sekere kardinale Christelike oortuigings, hoofsaaklik die behoefte aan redding (die hoop of versekering van alle Christene) en die verlossingsdaad van Christus aan die Kruis as die vervulling van verbondsbeloftes as die Seun van God.