Die groei van 'n lewende organisme is gewoonlik uitwendig sigbaar deurdat die organisme al hoe groter word. Hoewel kristalle en druipsteen met verloop van tyd ook groter word (kristalgroei genoem), is die groei van lewende organismes wesenlik anders. In die geval van lewende organismes is groei 'n aktiewe proses wat van binne gereguleer word. Al die inwendige dele van die organisme kan by die groeiproses betrokke wees, terwyl kristalgroei en die toename in grootte van druipstene uitsluitlik op die toevoeging van materiaal aan die buitekant berus.
Die groei van 'n organisme is spesie-georiënteerd en word erflik bepaal. Dit lyk soms of sommige plante onbepaald aan hou groei, maar elke organisme bereik gewoonlik 'n maksimumgrootte.
Plante groei nie net as gevolg van selvermeerdering nie, maar ook vanweë selvergroting. Die opname van water in die selvakuool bring mee dat die sel baie opswel en dit verklaar die merkbare groei van byvoorbeeld onkruid ná 'n reënbui. In plante vind egter seldeling gewoonlik net in afsonderlike weefsel aan die toppunt van die stingel of die wortel plaas.
Hoewel dierlike selle ook eers ná seldeling hul normale volume kan bereik, is daar hier geen ware selvergroting soos in die geval van plante nie omdat die dierlike sel geen vakuool het en dus geen water kan opneem nie. By diere vind groei wel op alle plekke in die liggaam plaas.
Die groei van kinders word deesdae met behulp van groeikurwes waargeneem. Elke moontlike afwyking van die normale groeipatroon kan dus vinnig opgespoor word. Die vernaamste bepalers van groei is die groeihormone, die skildklierhormone en geslagshormone. Groei-afwykings is dikwels te wyte aan hormonale faktore, hoewel erflike en chromosomale invloede, wanvoeding en siekte ook 'n rol kan speel.