Stratigrafie van die Karoo-supergroep in die Karookom | ||||
---|---|---|---|---|
Periode | Groep | Formasie wes van 24°O | Formasie oos van 24°O | Sone |
Jura | Drakensberg | Hiaat | Drakensberg | |
Stormberg | Clarens | |||
Trias | Elliot | |||
Molteno | ||||
Beaufort | ||||
Burgersdorp | Cynognathus | |||
Katberg | Lystrosaurus | |||
Balfour | ||||
Perm | Dicynodon | |||
Teekloof | ||||
Cistecephalus | ||||
Middleton | ||||
Tropidostoma | ||||
Pristerognathus | ||||
Abrahamskraal | Abrahamskraal | |||
Tapinocephalus | ||||
Eodicynodon | ||||
Ecca | Waterford | Waterford | ||
Tierberg / Fort Brown | Fort Brown | |||
Laingsburg/ Ripon | Ripon | |||
Collingham | Collingham | |||
Whitehill | Whitehill | |||
Prins Albert | Prins Albert | |||
Karboon | Dwyka | Elandsvlei | Elandsvlei | |
Verwysings: Rubidge (2005),[1] Selden en Nudds (2011).[2] |
Die Karoo-supergroep is die grootste van Suid-Afrika se stratigrafiese eenhede. Dit bedek ongeveer twee derdes van die huidige landoppervlak van Suid-Afrika, en sluit feitlik die hele Vrystaat, groot dele van die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Mpumalanga en die westelike deel van KwaZulu-Natal in. Dit strek ook verder en bedek dele van Lesotho, Namibië, Eswatini, Zambië, Zimbabwe en Malawi, asook dele van ander kontinente wat deel van die superkontinent Gondwana was.
Die bekkens waarin dit afgeset is, het gevorm tydens die vorming en opbreking van die oerkontinent Pangea.[3][4]
Die hoofgebied van die Karoo-supergroep is die Karoo, waar die meeste klipbanke van die opeenvolging blootgelê is.[5][6] Die supergroep se strata, wat hoofsaaklik uit skalie en sandsteen bestaan,[7] verteenwoordig ’n feitlik aaneenlopende opeenvolging van mariene-glasiale tot terrestriale afsettings vanaf die laat Karboon- tot die vroeë Jura-periode, ’n tydperk van sowat 120 miljoen jaar.[5] Dit het versamel in ’n bekken met die naam "Karookom"[3] in Suid-Gondwana, aan die suidelike grens van die huidige Suider-Afrika.[3] Sy sediment het ’n dikte van 12 km bereik, met die hoër liggende basaltlawalaag (die Drakensberg-groep) minstens 1,4 km dik.[8]
Fossiele sluit in plante (beide makrofossiele en stuifmeel), seldsame insekte en vis, algemene en uiteenlopende tetrapodes (meestal Therapsida-reptiele en Temnospondyli-amfibieë, asook dinosourusse in die boonste strata), en spore van biologiese aktiwiteit. Hulle biostratigrafie word gebruik as die internasionale standaard om die verband te bepaal tussen niemariene strata van die Perm tot die Jura.[9]