’n Kunsrolprent of kunsfliek is gewoonlik ’n ernstige, onafhanklike prent wat op ’n uitgelese groep gemik is, eerder as op ’n massagehoor.[1] Dit is bedoel "om ’n ernstige kunswerk te wees, dikwels eksperimenteel en nie vir die algemene smaak nie";[2] hulle word "hoofsaaklik om estetiese redes gemaak eerder as vir wins",[3] en hulle bevat "onkonvensionele of hoogs simboliese inhoud".[4]
Sulke prente kan elemente soos sosiale realisme, klem op die uitdrukkingsbehoeftes van die regisseur en ’n fokus op die denke, drome en motivering van die karakters bevat, in teenstelling met die duidelike, doelgerigte storielyn van gewilder prente. Die rolprentkenner David Bordwell beskryf kunsflieks as "’n rolprentgenre met sy eie, afsonderlike konvensies".[5]
Die vervaardigers van kunsflieks stel gewoonlik hul prente in spesialiteits- of kunsteaters en op rolprentfeeste bekend. Omdat hulle op ’n kleiner gehoor gemik is, kry hulle selde die finansiële steun van groter produksies en is daar minder spesiale effekte, duur akteurs en advertensieveldtogte by betrokke. Gewoonlik word meer onbekende akteurs en eenvoudiger filmstelle gebruik om geld te bespaar.
’n Sekere mate van kennis en ondervinding is gewoonlik nodig om sulke prente ten volle te verstaan en waardeer.[6] Vir reklame steun kunsflieks op die publisiteit wat deur rolprentresensente verskaf word, besprekings deur kunsrubriekskrywers en bloggers, asook mondelinge aanbeveling deur mense wat dit gesien het. Omdat hulle gewoonlik min kos, hoef hulle minder geld te maak om winsgewend te wees.