Leonides | ||
’n Leonidemeteoor tydens die hoogtepunt van die 2009-reën. | ||
Ontdekking | 902 n.C. (eerste rekord) | |
Moederliggaam | Komeet 55P/Tempel-Tuttle | |
Uitstralingspunt | ||
Sterrebeeld | Leeu | |
Regte klimming | 10h 08m | |
Deklinasie | +22° | |
Eienskappe | ||
Voorkoms | 15 November – 20 November | |
Hoogtepunt | 18 November | |
Spoed | 71 km/s | |
Sterre per uur | Wissel |
Die Leonides vorm ’n meteoorreën, of meteoorstroom, wat jaarliks tussen 14 en 21 November gesien kan word. Die naam verwys na die skynbare oorsprong in die sterrebeeld Leeu; tog is dit in werklikheid afkomstig van Komeet Tempel-Tuttle, wat op sy wentelbaan om die Son ’n groot aantal brokstukke (meteoroïede) agterlaat. Sodra die Aarde die baan van die komeet kruis, kom dit ook in aanraking met meteoroïdewolke. ’n Aantal brokstukke brand in die Aarde se atmosfeer uit en word as meteore (verskietende sterre) waargeneem. Die meteoorreën bereik elke jaar in November sy hoogtepunt – die presiese datum verskil van jaar tot jaar.
’n Buitengewone skouspel vind elke 33 jaar plaas.[1] Wanneer die Aarde die wentelbaan van Komeet Tempel-Tuttle kruis kort nadat hy deur die binneste gedeelte van ons Sonnestelsel getrek het, styg die aantal sigbare Leonide-meteore duidelik. Hierdie groot meteoorstorm, met duisende meteore per uur, kon in 1966 oor Amerika gesien word.[2] Die eerste rekord van die Leonides was in 902 n.C.