Die Luberon (Frans: Massif du Luberon) is 'n bergreeks wat uit kalksteen gevorm is en oor sowat 65 kilometer tussen die Suid-Franse stede Cavaillon en Manosque (naby Avignon) strek. 'n Laagte naby Lourmarin verdeel die Luberon in twee bergmassiewe: die Klein Luberon (Petit Luberon) met sy buitengewone rotsformasies in die weste bereik 'n maksimale hoogte van sowat 700 meter, terwyl die Groot Luberon (Grand Luberon) in die ooste met die bergspits Mourre Nègre 1 250 meter bo seevlak rys.
Die bergreeks se twee hellings verskil duidelik van mekaar. Die sonnige suidhelling daal geleidelik en bied met sy Mediterreense klimaat 'n uitgestrekte oppervlakte wat vir landboudoeleindes gebruik kan word. Daarenteen word die steil noordelike helling deur laer temperature gekenmerk. Die Luberon het onder meer bekendheid met sy landskapsvorme - valleie met steil rotswande en grotte - asook met sy dorpe verwerf wat dikwels bo-op rotshellings troon.