Die Marikana-slagting het op 16 Augustus 2012 by die Lonmin-myn in Marikana, Noordwes, plaasgevind. Verskeie mynwerkers van die AMCU-vakbond is deur die polisie doodgeskiet. Die polisie het probeer om gewelddadige stakers wat op 'n heuwel saamgedrom het uitmekaar te jaag, waarna die skietery begin het. Vier-en-dertig betogers is in die voorval dood.[1][2]
Volgens die Azanian People's Organization herinner die slagting aan die massamoord op 21 Maart 1960 in Sharpeville, op 16 Junie 1976 in Soweto en op 17 Junie 1992 in Boipatong.[3]
Omstredenheid het na vore getree toe nadoodse ondersoeke toon dat die meeste myners probeer vlug het en in die rug geskiet is,[4] en dat baie slagoffers ver van polisielyne geskiet is.[5] Op 18 September het 'n bemiddelaar aangekondig dat 'n oplossing vir die konflik beding is, deur te verklaar dat die stakende mynwerkers 'n 22% salarisverhoging en 'n eenmalige betaling van R2000 aanvaar het, en sal terugkeer werk toe op 20 September. Die staking is beskou as 'n seminale gebeurtenis in die moderne Suid-Afrikaanse geskiedenis, en is gevolg deur soortgelyke stakings by ander myne in Suid-Afrika,[6][7] gebeure wat gesamentlik gesorg het dat 2012 die ergste protesjaar in die land se geskiedenis was sedert die einde van apartheid.[8]