Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.

Responsive image


Minnesang

Hierdie artikel is al gemerk vir opsplitsing in 'n Oksitaanse gedeelte met betrekking tot trobadors en 'n artikel oor Middelhoogduitse Minnesang.
Die minnesanger Kristan von Hamle behaal sukses met sy liefdeslied en verower die hart van die vrou wat hy begeer het. Die klassieke ridderlike liefdesliriek of Hoë Minne word egter ter ere van vroue geskryf wat vir die sanger en digter altyd onbereikbaar sal wees
Codex Manesse, omstreeks 1305-1315

Minnesang, afgelei van die Middelhoogduitse minne, is - net soos die Oksitaanse fin amor - 'n sambreelterm vir 'n hoogs geritualiseerde vorm van Middeleeuse liefdesliriek wat in sy klassieke gesonge vorm en kernperiode ongeveer vanaf die middel van die 12de tot die middel van die 13de eeu in Wes-Europese hoofse en adelskringe deur (meestal) manlike sangers voorgedra is.

Die term minne het in die vroeë en hoë Middeleeue 'n wye spektrum van betekenisse wat as positiewe emosionele ingesteldheid of simpatie omskryf kan word. Dit kan verwys na onderlinge verhoudinge tussen mense waarin sosiale bande, vriendskap, liefde en respek uitgedruk word. Maar ook 'n verhouding van erotiese natuur is denkbaar, net soos goddelike liefde en die godsdienstige verering van Maria as Moeder Gods of van God self. Die literêr-filosofiese term en konsep van hoofse liefde is eers deur die Franse geleerde en skrywer Gaston Paris (1839−1903) as amour courtois in die wetenskaplike diskoers ingevoer.

In adellike en hoofse kringe is die betekenis met die opkoms van minnesang-liriek vernou tot 'n emosionele of erotiese verhouding tussen man en vrou. Vanaf omstreeks 1170 het hierdie soort verhouding die sentrale tematiek van minnesang geword. Die Minnesang-tradisie het sy oorsprong in die Oksitaanssprekende suide van Frankryk waar trobadors in hul dig- en sangkuns Christelike en liefdesmotiewe met mekaar verbind het. Van hier het minnesang as kunsvorm na ander gebiede van Europa, insluitende die Noord-Franse, Nederlandse en Duitse taalgebied, uitgebrei. Duisende oorspronklike lirieke is oorgelewer, maar melodieë ontbreek - om onbekende redes - in belangrike liedbundels soos die Duitse Codex Manesse.

In sy nouer betekenis word die term Minnesang slegs op die liedere van Middelhoogduitse Minnesangers toegepas (onder wie die befaamde Walther von der Vogelweide) wat dikwels Oksitaanse of Noord-Franse melodieë oorgeneem en van lirieke in hul eie taal voorsien het.


Previous Page Next Page