Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.

Responsive image


Neo-Nazisme

Ultranasionalisme is een van die hoofkenmerke van Neo-Nazistiese ideologie. Die foto wys Duitse betogers wat Rudolf Hess as 'n soort nasionale martelaar beskou. Die relativering van Duitsland se alleenskuld vir die Tweede Wêreldoorlog is 'n kernelement van Neo-Nazistiese wêreldbeskouing in Duitsland se verregse bewegings
Unite the Right-betoging in Charlottesville, VSA. Verregse Amerikaanse groeperings voel bedreig deur massaimmigrasie wat die Protestants-Angel-Saksiese karakter van hul samewerking vir goed sal verander. Vandaar die Gekonfedereerde vlag as gewilde simbool

Neo-nazisme is 'n sambreelterm wat na militante maatskaplike of politieke bewegings verwys wat na die Tweede Wêreldoorlog gevestig is met die doelwit om die ideologie en beleid van Duitse Nazisme te laat herleef en te implementeer. Neo-nazisme is 'n wêreldwye verskynsel met 'n verskeidenheid doelwitte, alhoewel internasionale netwerke gevestig is. Die ideologiese grondslag van neo-nazistiese groeperings word gekenmerk deur elemente wat aan die oorspronklike Nazi-doktrine ontleen is, insluitende ultranasionalisme, rassisme, xenofobie, homofobie, diskriminasie van geestelik of liggaamlik gestremdes, antisemitisme en anti-kommunisme. Oorlogsmisdade van Duitsland se Nazi-bewind en Nazi-weermag word ontken of gerelativeer, so ook die Holocaust.

Dit is 'n voortsetting van die nasionale sosialistiese ideologie wat die Indo-Europese ras of, in 'n meer uiterste sin, wit mense, die Ariese ras, beter as alle ander rasse beskou. Die ideologie veronderstel ook dat Judaïsme na wêreldoorheersing streef en die uiteindelike vernietiging van die wit ras voorstaan. Dikwels word geweld verheerlik en tradisionele gesinswaardes beklemtoon. Die meeste beskrywings gee egter 'n vereenvoudigde voorstelling van Neo-Nazisme as politieke en maatskaplike verskynsel. So wys navorsers daarop dat daar in enkele verregse kringe inderdaad 'n diskoers oor homoseksualiteit gevoer word deur Neo-nazis wat hulself as homofiel beskryf, so deur die bekende Wes-Duitse Neo-nazi Michael Kühnen (wat in 1991 aan vigs oorlede is) in sy strydskrif Nationalsozialismus und Homosexualität (1986).[1]

Die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) word na die Tweede Wêreldoorlog as 'n kriminele organisasie saam met al sy dogterorganisasies verklaar. Nazisme is verbied in Duitsland en in baie ander lande na die Tweede Wêreldoorlog. Klein groepe neo-Nazi's bestaan egter steeds regoor die wêreld. Hulle vestig aandag in die media as gevolg van gewelddadige optrede teen hoofsaaklik immigrante of weens openlike neo-Nazi uitsprake. 'n Voorbeeld hiervan is die NSDAP / AO (Nationalsozialistische Deutsche Arbeiterpartei/Auslands-Organisation, oorspronklik die benaming vir die NSDAP se buitelandse dogterorganisasies wat in 1972 deur 'n nuutgestigte organisasie in die Amerikaanse deelstaat Nebraska oorgeneem is), wat hulself net met neo-Nazi-propaganda besig hou. Benewens neo-Nazi's, is daar verwante groeperings wat die bestaan van die Holocaust en ander historiese feite oor Nazisme ontken en die Duitse NS-bewind tussen 1933 en 1945 in 'n positiewe lig probeer stel.

Van die bekendste persoonlikhede, wat in hierdie kategorie val, was Richard Verral, lid van die Britse National Front (NF), wat onder die pseudoniem Richard E. Harwood in 1974 'n pamflet onder die titel Did Six Million Really Die? The Truth At Last gepubliseer het (alhoewel die NF later ontken het dat die omstrede strydskrif uit Verral se pen gekom het), en die Duitse uitgewer Ernst Zündel (1939−2017) wat die pamflet, wat onder meer in Suid-Afrika en Duitsland tot onwettige publikasie verklaar is, internasionaal versprei het. Die pamflet is, net soos ander publikasies waarin die Holocaust ontken word, tot en met 2017 deur die Amerikaanse aanlynwinkel Amazon.com verkoop. Eers toe Joodse belangegroepe daarop aangedring het, is die titels uit die aanlynwinkel verwyder.[2] Die Amerikaanse reg tot meningsvryheid dek nogtans die publikasie en verspreiding van hierdie soort literatuur.

Daar is ook politieke partye en groepe wat Nazi-idees verkondig, maar hulself nie openlik as nasionaal sosialisties voorhou nie.

Neo-Nazi's vorm nie 'n blok nie en daar is groot verskille binne lande en ook binne bewegings. Daar is byvoorbeeld dikwels 'n oorvleueling in die Verenigde State tussen Ku Klux Klan-splintergroepe en die neo-Nazi's, en hul aggressie fokus gewoonlik op swartes, Hispanics (mense van Latyns-Amerikaanse afkoms) en Asiërs saam met die Jode. Duitse neo-Nazi's is meer dikwels gekant teen ongewenste immigrasie van nie-Europeërs en multi-kulturele samelewings, daarnaas word ook die politieke stelsel van die Duitse Bondsrepubliek asook die staat se regmatigheid bevraagteken. Russiese neo-Nazi's fokus meer dikwels op 'tsjorni' of 'swartes' (immigrante uit oorwegend Islamitiese dele van Rusland en die voormalige Sowjetunie). Daar is ook 'n beweging genaamd die Nasionale Bolsjewiste, wat Nazi en Kommunistiese elemente kombineer. Daar is ook gevangenisbendes wat hulself as neo-Nazi's voorstel, soos die Aryan Brotherhood en Nazi-Lowriders.

Na die Duitse hereniging, veral in die voormalige Duitse Demokratiese Republiek (DDR), het 'n beskeie toename in neo-Nazisme ontstaan. In die DDR, waar anti-fascisme tot staatsideologie verhef is, is die aantal Neo-Nazi's deur die opposisionele jeugbeweging op sowat 2 000 beraam. Oos-Duitse media het nouliks verslag gedoen oor neo-nazistiese voorvalle. Toe neo-Nazi's op 17 Oktober 1987 'n punk-konsert in die Oos-Berlynse Zion-kerk aangeval het, het die Oos-Duitse polisie (Volkspolizei) nie ingegryp nie. Die voorval het opslae in heel Berlyn gemaak. DDR-media het beweer dat die aanvallers in waarheid Wes-Berlyners sou wees en die hele voorval net daarop gemik was om die DDR se internasionale reputasie te beskadig.[3]

Voorts kon neo-Nazi partye/bewegings nie in Duitsland of in ander lande 'n betekenisvolle politieke mag bekom nie.

  1. bpb.de: Schwule Nazis?! (Männliche) Homosexualität und Homosexuellenfeindlichkeit in der extremen Rechten. Besoek op 24 Maart 2019
  2. The Jewish Chronicle, 8 Maart 2017: Under pressure, Amazon stops selling Holocaust-denial books. Besoek op 26 Maart 2019
  3. "Konrad-Adenauer-Stiftung: Neonazis in der DDR - Das verleugnete Problem. Besoek op 26 Maart 2019". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Maart 2019. Besoek op 26 Maart 2019.

Previous Page Next Page