Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.

Responsive image


Ossilloskoop

Analoog CRT-ossilloskoop Tektronix 475A (1977) en digitale bergingsossilloskoop Tektronix TPS 2014B (c. 2012).

'n Ossilloskoop is 'n elektroniese instrument waarmee 'n wisselende elektriese spanning se golfvorm vertoon kan word. In die instrument is 'n elektronstraal wat, in ooreenstemming met 'n insetsein se veranderinge, oor die skerm tas en die golfvorm daarop teken. Die ossilloskoop word ook gebruik om die amplitude (golfgrootte) en die frekwensie (aantal siklusse per sekonde) van 'n golf te bepaal.

Die ossilloskoop is van 'n elektronstraalbuis (ook 'n katodestraalbuis genoem) voorsien, met 'n katode wat 'n bundel elektrone uitstuur wat 'n ligkolletjie op die skerm maak. In die buis is daar x-plate (horisontale defleksieplate) en y-plate (vertikale defleksieplate) waarmee beheer oor die beweging van die elektronstraal uitgeoefen kan word.

Wanneer 'n elektriese spanning byvoorbeeld op die x-plate aangelê word, sal dit die elektronstraal horisontaal verplaas, terwyl ʼn spanning op die y-plate die straal vertikaal sal laat uitwyk. 'n Gelykspanning (op die x- of y-plate) sal die elektronstraal na 'n sekere posisie verplaas en dit daar hou, maar 'n wisselspanning sal die straal heen en weer laat beweeg in ooreenstemming met die verandering in die spanning.

Die x-plate in 'n ossilloskoop is gewoonlik aan 'n tydbasisgenerator ('n soort ossillator) verbind wat die elektronstraal teen 'n sekere frekwensie (tempo) horisontaal oor die skerm sal laat beweeg. As die straal vinnig van links na regs oor die skerm beweeg, vorm dit 'n lyn op die skerm.

Die y-plate van 'n ossilloskoop is gewoonlik aan die insetpunt verbind. 'n Wisselende spanning by die inset sal die elektronstraal op en af laat beweeg, en terwyl dit dan van links na regs beweeg, word die golfvorm afgebeeld. 'n Ossilloskoop is dus veral geskik vir die meet van wisselspanning. ʼn Wisselspanning met 'n klein amplitude (‘n lae spanning) word gewoonlik deur 'n versterker in die ossilloskoop gestuur, waardeur die spanning (sein) sodanig versterk word dat die golf groot en duidelik op die skerm vertoon word.

Die gevoeligheid van 'n ossilloskoop word ook gewoonlik uitgedruk in die aantal volt (V) wat nodig is om die elektronstraal 1 cm vertikaal op die skerm te verplaas. Sonder 'n versterker word 20 V/cm byvoorbeeld vir 'n 1 cm-verplasing vereis, terwyl slegs 100 mV/cm (0,1 V/cm) met behulp van die versterker voldoende is vir dieselfde verplasing.


Previous Page Next Page