Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.

Responsive image


Rekenaarwetenskap

Rekenaarwetenskap is die studie van berekening en inligtingverwerking, asook die implementering daarvan in inligtingstegnologie, in beide hardeware (apparatuur) en sagteware (programmatuur). In die praktyk omvat dit 'n wye aantal velde – van die abstrakte studie van algoritmes, en formele grammatikas tot meer konkrete onderwerpe soos programmeertale, bedryfstelsels, rekenaarnetwerke, databasisse en beheerstelsels. As 'n wetenskaplike dissipline, sluit dit aan by wiskunde, fisika en elektronika, maar verskil heelwat en is 'n dissipline in eie reg.

Rekenaarwetenskaplikes bestudeer wat programme kan of nie kan doen nie (onderwerpe soos berekenbaarheid en kunsmatige intelligensie is ter sprake), hoe programme sekere take effektief kan doen, hoe programme verskillende tipes inligting moet stoor en terugkry, en hoe programme en mense met mekaar kommunikeer.

Rekenaarwetenskap gaan net so veel oor rekenaars as wat sterrekunde oor teleskope gaan.
– toegeskryf aan Edsger Dijkstra
Rekenaarwetenskap is nie so oud soos fisika nie; dit kom 'n paar honderd jaar agterna. Dit beteken egter nie dat daar aansienlik minder op die rekenaarwetenskaplike se bord is as op die fisikus s'n nie: jonger mag dit wees, maar dit het 'n baie meer intense opvoeding gehad!
Richard Feynman

Die Church-Turing-stelling sê dat alle bekende algemene rekentoestelle in wese ekwivalent is in wat hulle doen, alhoewel hulle verskil wat tyd- en ruimtedoeltreffendheid betref. Meeste navorsing in rekenaarwetenskap het te make met von Neumann-rekenaars of Turing-masjiene (rekenaars wat een klein, toegewyde taak op 'n slag uitvoer). Hierdie modelle stem ooreen met meeste werklike rekenaars wat vandag gebruik word. Rekenaarwetenskaplikes bestudeer ook ander masjiene, soos parallelle- en kwantumrekenaars.

Rekenaarwetenskap het sy wortels in elektroniese ingenieurswese, wiskunde en linguistiek. In die laaste paar dekades van die 20ste eeu is rekenaarwetenskap erken as 'n dissipline in eie reg en het dit sy eie metodes en terminologie ontwikkel.

By universiteite is rekenaarwetenskap aanvanklik gedoseer vanuit die wiskundedepartemente, maar deesdae het meeste universiteite aparte departemente vir rekenaarwetenskap en/of informatika.

Die grootste eerbewys in rekenaarwetenskap is die Turing-toekenning.


Previous Page Next Page