Die Rosetta-ruimtetuig was ’n ruimtetuig van die Europese Ruimteagentskap met ’n landingstuig, Philae, aan boord. Dit is op 2 Maart 2004 gelanseer met die doel om ná ’n 10 jaar lange reis die komeet 67P/Churyumov-Gerasimenko te bereik, daarom te wentel en die landingstuig te ontkoppel om daarop te land. Op 6 Augustus 2014 het die Rosetta, nadat dit 6,4 miljard kilometer afgelê het, uiteindelik sy bestemming bereik. In die proses het dit verskeie kere by die Aarde en Mars verbygeskuur om deur die slingervel-metode te versnel, sodat dit ’n snelheid soortgelyk aan die komeet s'n kon bereik.[1]
Die tuig is genoem na die Rosettasteen, ’n stele van Antieke Egipte met ’n verordening in drie skryfstelsels. Die landingstuig is genoem na die Philae-obelisk, wat ’n tweetalige inskripsie bevat in Grieks en Egiptiese hiërogliewe.