'n Rytuig is 'n privaat vierwielvoertuig vir mense en word meestal deur perde getrek. Tweedehandse privaatwaens was algemene openbare vervoer, die ekwivalent van moderne motors wat as taxi's gebruik word.
Die ontwikkeling van rytuie is sinoniem met die ontwikkeling van die beskawing. Sedert die vroegste tye het die mens 'n drang na reis en verkenning gehad om so die beskawing uit te dra, en rytuie was hiervoor noodsaaklik.
Reeds in 5 000 v. C. is die slee waarskynlik al gebruik, en teen ca. 700 v.C. was die strydwa reeds in Engeland bekend. In Suid-Afrika moes 'n onherbergsame binneland verken word en Europese waens is vir hierdie doel by die Suid-Afrikaanse toestande aangepas. Jare later, toe rytuie hier gevestig was, het Suid-Afrika nie agteruitgestaan vir die res van die wêreld wat 'n verskeidenheid van rytuie betref nie. Ondanks probleme soos swak paaie het die vakmanskap en ondernemingsgees van rytuigbouers tog rytuie van formaat opgelewer.
Met die koms van die motor, waardeur gerief en spoed verseker is, behoort hierdie ou rytuie vir altyd tot die verlede: dit is vandag slegs museum- en versamelaarstukke. Sommige ou rytuie word egter vandag nog plaaslik en oorsee vir sekere seremonies gebruik, byvoorbeeld die koetse van die Britse koningshuis, dié van die Lord Mayor of London, die Nederlandse glaskoets en die Goue Koets wat in 1898 as inhuldigingsgeskenk aan koningin Wilhelmina geskenk is. In Suid-Afrika word die vroeë rytuie ook nie net as vervoermiddels beskou nie, maar dit het kultuurbesit geword: die ossewa, die vierperdewa en die poskoets.