Die Senone, Senones of Senonii (Gallies: "Die ou mense") was 'n antieke Galliese stam wat rondom die Seine-rivierkom gewoon het (in hedendaagse Sens, in Frankryk) gedurende die La Tène-tydperk van die Europese ystertydperk en die Romeinse tydperk.
'n Deel van die Senone het hulle in die Italiaanse Skiereiland gevestig, waar hulle die Umbriërs tussen Ariminum (hedendaagse Rimini) en Ancona verdryf het. Hulle word in klassieke bronne beskryf as die leiers van die Galliese oorlogsbende wat Rome tydens die Slag van die Allia in 390 v.C. verower het. Hulle het 'n konstante bedreiging gebly totdat Rome hulle uiteindelik in 283 v.C. onderwerp het, waarna hulle uit die geskiedenisboeke verdwyn het.[1]