Tefra is stukke materiaal wat geskep word in 'n vulkaanuitbarsting, ongeag die samestelling of grootte daarvan. Vulkanoloë verwys ook na fragmente in die lug as piroklaste. Nadat klastiese materiaal op die grond geval het, bly dit as tefra bestaan, tensy dit warm genoeg is om saam te smelt en piroklastiese gesteentes of tuf te vorm.
Tefrochronologie[1] is 'n geochronologiese tegniek wat afsonderlike lae tefra – vulkaanas van 'n enkele uitbarsting – gebruik om 'n chronologiese raamwerk te skep waarbinne argeologiese rekords geplaas kan word. Wanneer 'n vulkaan ontplof, stel dit 'n verskeidenheid soorte tefra vry, insluitende as, sintels, bomme en blokke. Hierdie materiaal val op die grond en mettertyd vind sedimentasie plaas waarin dié tefralae in die fossielrekord opgeneem word. Dikwels wanneer 'n vulkaan uitbars, word biologiese organismes gedood en hulle oorskot in die tefralae begrawe. Dié fossiele kan later deur wetenskaplikes gedateer word om die ouderdom daarvan en hul plek in die fossielrekord te bepaal.