Towerkuns, toorkuns of magie is die gebruik van rituele, simbole, aksies, gebare en taal met die doel om voordeel te trek uit bonatuurlike magte.[1][2]:6–7[3][4]:24 Die geloof in en beoefening van towerkuns bestaan al sedert die vroegste menslike beskawings en speel steeds ’n belangrike spirituele, godsdienstige en geneeskundige rol in baie kulture.[5]
Die geloof dat ’n mens bonatuurlike magte kan beïnvloed deur gebed, offerandes of aanroeping, dateer van die prehistoriese godsdienste en word in vroeë tekste aangetref soos dié van die Antieke Egiptenare en Indiese Veda.[6]
Towerkuns en godsdiens is kategorieë van gelowe en kennisstelsels in gemeenskappe. Dit lyk of sommige vorme van sjamaanse kontak met die geesteryk amper universeel in die vroeë menslike gemeenskappe was. Dit kom voor by verskeie inheemse volke in van Australië en Nieu-Seeland tot Afrika, die Amasone en Europa.
Towerkuns word soms in afsondering en in die geheim beoefen en word in baie gemeenskappe met skeptisisme en afkeer bejeën.[4]:24 In somme ander gemeenskappe word persoonlike en gemeenskaplike ongeluk soms aan magiese aanvalle toegeskryf.[7]
Die begrip van towerkuns as iets apart van godsdiens is die eerste keer algemeen erken in Judaïsme, waarin praktyke om voordele van ander gode as Jahweh te ontvang, as towerkuns bestempel is.[2]:6–7 Die Nederlandse professor in hermetiese filosofie Wouter Hanegraaff meen towerkuns is inderdaad ’n "grootliks polemiese begrip wat deur verskeie godsdiensbelangegroepe gebruik word om óf hul eie godsdiensgelowe en -praktyke te beskryf óf – al hoe meer dikwels – dié van ander onder verdenking te plaas."[3]
Moderne beoefenaars van towerkuns beskou persoonlike spirituele groei oor die algemeen as die primêre doel van magie.[8]