Hoewel die Chinese reeds duisende jare gelede begin het met die teel van vis, lewer visteelt vandag steeds 'n relatief geringe bydrae tot die voorsiening van voedsel aan die wêreld. In Suid-Afrika is veral die teel van karp en forel van belang. Jag en visvang het in die oertyd die vernaamste bydrae gelewer ten opsigte van die voeding van die mens.
Dierlike voedsel wat so verkry is, is dikwels aangevul met plantaardige materiaal wat in die veld versamel is. Vanweë die toenemende bevolkingsdigtheid het die mens egter oorgegaan tot die kweek van voedingsgewasse, soos graan en peulvrugte, en die domestisering van diere, soos beeste, skape en hoenders. Die situasie ten opsigte van voedsel uit die water het egter deur die eeue min verander. Hoewel die Chinese reeds duisende jare gelede al met welslae vis geteel het, word 95 % van alle vis wat vandag in die wêreld verbruik word, verkry deur hulle te vang.
Visvangtegnieke het geweldig verbeter, maar die natuurlike hulpbronne is beperk. Sommige visse, soos die sardyne langs die weskus van Suider-Afrika, word reeds deur oorbenutting bedreig. Die enigste manier waarop die opbrengs betekenisvol verhoog kan word, is om vis te teel en deur die toepassing van basiese ekologiese en landboubeginsels groot getalle vis in beperkte volumes water te produseer. Visteelt het baie potensiaal, maar word tans nog deur 'n relatief onontwikkelde tegnologie en ekonomiese probleme gekortwiek.