'n Windkous is 'n koniese buis materiaal wat aan 'n groot sokkie herinner en tipies aan 'n paal geheg word. Dit kan gebruik word as 'n basiese aanduider van windspoed en windrigting; maar ook as 'n versiering. Windkouse word gewoonlik by lughawens gebruik om die rigting en sterkte van die wind aan vlieëniers aan te dui. Dit word ook gebruik by chemiese fabrieke waar daar 'n risiko van gaslekke is. Hulle word ook soms langs hoofweê, waar die wind erg waai, gesien.
By die meeste lughawens word windkouse belig gedurende die nag.[1] Die windrigting is die rigting wat die kous aandui. Daar moet in gedagte gehou word dat windrigting aangedui word uit die rigting wat die wind waai; 'n windkous wat noord wys dui 'n suidewind aan. Die windspoed word aangedui deur die windkous se hoek relatief tot die paal waaraan dit geheg is. In lae winde hang dit en in hoë winde is dit horisontaal.