Deel van ’n reeks oor |
Menslike groei en ontwikkeling |
---|
Stadiums |
Sigoot • Embrio • Fetus • Baba • Peuter • Kind • Adolessent • Volwassene |
Biologiese mylpale |
Bevrugting • Swangerskap • Geboorte • Taalverwerwing • Puberteit • Menopouse • Veroudering • Dood |
Ontwikkeling en menslike sielkunde |
Kind • Volwassenheid • Moraal |
Adolessensie is ’n oorgangstadium in die menslike fisieke en sielkundige ontwikkeling wat duur van puberteit tot meerderjarigheid.[1] Vir ’n seun is dit gemiddeld van 14 tot 21 jaar en vir ’n meisie van 12 tot 21 jaar.[2] Adolessensie word gewoonlik vereenselwig met die tienerjare,[1][3][4][5] maar die fisieke, sielkundige en kulturele uitdrukking daarvan kan vroeër of later wees. Puberteit begin deesdae eerder al voor adolessensie, veral by meisies.[3][6][7] Fisieke groei (veral in mans) en kognitiewe ontwikkeling kan voortduur tot in die vroeë 20's. Ouderdom is dus net ’n rowwe aanduiding van adolessensie en dit is vir geleerdes moeilik om oor ’n presiese definisie ooreen te kom.[6][7][8][9]
’n Deeglike begrip van adolessensie in die gemeenskap hang af van inligting uit verskillende perspektiewe, insluitende sielkunde, biologie, geskiedenis, sosiologie, opvoeding en antropologie. In al dié perspektiewe word adolessensie beskou as ’n oorgangstydperk tussen die kinderjare en volwassenheid, en die kulturele doel daarvan is om kinders voor te berei op grootmensrolle.[10] Dit is ’n tydperk wat verskeie oorgange behels: in opleiding, indiensneming en werkloosheid, asook oorgange van een lewenstadium tot ’n ander.[11]
Die einde van adolessensie en die begin van volwassenheid verskil van land tot land. Selfs binne ’n sekere staat, nasie of kultuur kan ouderdomme verskil waarop ’n individu as volwasse genoeg beskou word dat die gemeenskap sekere voorregte en verantwoordelikhede aan hom of haar toevertrou. Dit sluit in die bestuur van ’n motor, wettige seksuele verhoudings, diens in die weermag, die koop en drink van alkohol en tabak, stemreg, die huwelik en geregtelike verantwoordbaarheid.
In die bestudering van adolessente ontwikkeling[12] kan dié tydperk biologies gedefinieer word, as die fisieke oorgang wat gekenmerk word deur puberteit en die einde van fisieke groei; kognitief, as veranderings in die vermoë om abstrak en veelvlakkig te dink; of sosiaal, as ’n tydperk van voorbereiding op grootmensrolle. Groot puberteits- en biologiese veranderings sluit in veranderings aan die geslagsorgane, lengte, gewig en massa, asook in breinontwikkeling en -organisasie. Kognitiewe voordele sluit in beide ’n toename in kennis en die vermoë om abstrak te dink en doeltreffender te redeneer. Die bestudering van adolessente ontwikkeling behels dikwels interdissiplinêre samewerking. Navorsers in neurowetenskap kan fokus op veranderings in breinstruktuur en die uitwerking daarvan op sosiale verhoudings. Sosioloë kan aandag skenk aan die aannleer van sosiale rolle en hoe dit van kultuur tot kultuur verskil.[13] Ontwikkelingsielkundiges kan fokus op veranderings in verhoudings met ouers en tydgenote as ’n funksie van skoolstruktuur en puberteitstatus.[14] Sommige wetenskaplikes het al die universaliteit van adolessensie as ’n ontwikkelingsfase bevraagteken. Hulle meen eienskappe wat gewoonlik as tipies van adolessente beskou word, is nie werklik inherent aan die tienerjare nie.