Anchesenamen | ||||
Anchesenpaaten | ||||
Koningin van die 18de Dinastie | ||||
Periode | Omstreeks 1332–1323 v.C. | |||
Vader | Achenaten | |||
Moeder | Nefertiti | |||
Gade(s) | Achenaten (pa/oom) Toetankamen (halfbroer) Ai (oupa/oom) | |||
Gebore | Omstreeks 1348 v.C. | |||
Oorlede | Omstreeks 1322 v.C. (op sowat 26) | |||
|
Anchesenamen (ˁnḫ-s-n-imn, "Haar Lewe is van Amen"; omstreeks 1348 – ná 1322 v.C.) was ’n koningin van die 18de Dinastie van Egipte. Sy is as Anchesenpaaten gebore en was die derde van ses bekende dogters van farao Achenaten en sy hoofkoningin, Nefertiti. Sy het later die hoofkoningin van haar halfbroer, Toetankamen, geword.[1] Die verandering in haar naam weerspieël die veranderings in Antieke Egipte se godsdiens ná haar pa se dood.
Sy word as jong vrou goed verteenwoordig in die antieke skilderings en reliëfwerke uit haar ouers se bewind. Sy en Toetankamen het dieselfde pa gehad, maar onlangs is met DNS-toetse vasgestel Toetankamen se ma was een van Achenaten se onbekende susters, wie se mummie Die Jonger Dame genoem word. Sy en Achenaten was die kinders van Amenhotep III.
Anchesenamen is moontlik in die vierde jaar van Achenaten se bewind gebore en teen die 12de jaar het sy drie jonger susters gehad. Ná Toetankamen se dood was sy vermoedelik met sy opvolger, Ai, getroud wat sommige glo haar oupa aan moederskant was.[2]
DNS-toetse in Februarie 2010 dui ook op die moontlikheid dat een van die twee mummies van koninginne uit die 18de Dinastie wat in tombe KV21 ontdek is, sy kon gewees het. Volgens die toetse was albei moontlik lede van die koningshuis.[3]