Die Arabiese Lente is 'n golf van proteste, opstande en revolusies wat die Arabiese wêreld van 18 Desember 2010 af geteister het.[1] Dit bestaan uit revolusies in Tunisië, Egipte, Libië en Jemen, 'n burgeroorlog in Sirië, groot betogings en proteste in Bahrein, middelgroot proteste in Jordanië, Marokko, Algerië, Irak, Oman en die Palestynse gebiede, asook kleiner proteste in Mauritanië, Saoedi-Arabië, Soedan, Libanon en Koeweit. Geen voorvalle is egter in Katar of die Verenigde Arabiese Emirate aangemeld nie.
Die presiese oorsaak van die Arabiese Lente verskil van land tot land. Dit wissel van onderdrukking, onregverdige verkiesings, korrupsie, weghol prysstygings, gebrek aan politieke vryheid en werkloosheid. In verskeie demonstrasies uiter die onderdane van Arabiese regimes hul ontevredenheid en pak die skuld op hul onderskeie regerings se skouers.
Talle Arabiese lande (veral Egipte) het 'n hoë geboortesyfer en 'n lae sterftesyfer. Dit het aanleiding gegee tot 'n demografiese krises. 'n Oorvloed van jongmense wil die arbeidsmark betree, maar almal kan nie geakkommodeer word nie. Jonger mense is ook meer geneig om te protesteer, wat tot die onstabiliteit bydra.[2]
Op 17 Desember 2010 steek die straatverkoper Mohammed Bouazizi homself aan die brand. Die owerhede het beslag op sy handelsware gelê en hy is deur 'n vroulike polisiebeampte verneder. Dit lei tot groot protesoptogte en die val van die Tunisiese regering, waarna die onstabiliteit na nabygeleë lande oorgespoel het.