Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.

Responsive image


Ashelling

Die ashelling van die Aarde, Uranus en Venus.

Die positiewe pool van ’n planeet word bepaal deur die regterhandreël: as die vingers van die regterhand gekrul is in die rotasierigting, dan wys die duim na die positiewe pool. Die ashelling is die hoek tussen die rigting van die positiewe pool en die loodlyn op die wentelvlak. Die hoeke van die Aarde, Uranus en Venus is onderskeidelik sowat 23°, 97° en 177°.

’n Ashelling in sterrekunde is die hoek tussen ’n voorwerp se rotasie-as en sy wentelas, of die hoek tussen sy ewenaarvlak en wentelvlak (die sonnebaan in ons sonnestelsel).[1] As die helling zero is, wys die twee asse in presies dieselfde rigting; die rotasie-as is dus loodreg op die wentelvlak.

In die loop van ’n wenteling verander die helling gewoonlik nie veel nie en die oriëntasie van die as bly dieselfde met betrekking tot die agtergrondsterre. Dit bring mee dat een pool aan ’n sekere kant van die wentelbaan meer na die Son oorhel en die ander pool aan die ander kant van die wentelbaan – dit veroorsaak die seisoene op Aarde. Die Aarde se ashelling wissel tussen 22,1 en 24,5 grade oor ’n siklus van 41 000 jaar. Dit is tans 23°26′13,7″ (of 23,43714°) en aan die afneem.

  1. U.S. Naval Observatory Nautical Almanac Office (1992). P. Kenneth Seidelmann (red.). Explanatory Supplement to the Astronomical Almanac. University Science Books. p. 733. ISBN 0-935702-68-7.

Previous Page Next Page