Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.

Responsive image


Birmingham, Alabama

Birmingham

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Deelstaat Alabama
 Counties Jefferson, Shelby
 Koördinate 33°31′N 86°49′W / 33.517°N 86.817°W / 33.517; -86.817
 Gestig op 1 Junie 1871
 Geïnkorporeer op 19 Desember 1871
 Oppervlakte:  
 - Totaal 393 vk km
 Hoogte bo seevlak 196 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2013) 212 113
 - Bevolkingsdigtheid 546,66/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 140 300
 Tydsone CST (UTC -6)
 Somertyd CDT (UTC -5)
 Burgemeester Randall L. Woodfin
 Amptelike Webwerf birminghamal.gov

Birmingham [ˈbɜrmɪŋhæm] is 'n munisipale korporasie volgens die wet van die Amerikaanse deelstaat Alabama en ook sy grootste nedersetting met 'n bevolking van 212 237 volgens die sensus van 2010. Die stad dien as administratiewe setel van die distrik Jefferson County en is die sentrum van 'n metropolitaanse gebied waarna soms as Birmingham-Hoover verwys word, met 'n bevolking van 1 128 047. Sowat 'n vyfde van Alabama se totale bevolking is in dié metropolitaanse gebied, wat oor sewe counties of distrikte strek, saamgetrek.

Birmingham is 'n relatief jong stad wat in 1871 gedurende die heropboufase ná die Amerikaanse Burgeroorlog gestig is toe drie plattelandse nedersettings, waaronder Elyton, saamgesmelt is. Die stad het vinnige groei ervaar – 'n proses waartydens steeds meer aangrensende nedersetting by Birmingham ingesluit is. Die stad is vernoem na Birmingham in Engeland, tans die tweede grootste stad in die Verenigde Koninkryk en een van sy leidende nywerheidsentra.

Na die hoek van 20th Street en 1st Avenue North met sy indrukwekkende wolkekrabbers is in die vroeë 20ste eeu as die "Swaarste hoek op Aarde" verwys

Die naamkeuse weerspieël Birmingham se etniese samestelling en sy rol as een van die leidende nywerheidstede in die Amerikaanse Suide. Baie van die vroeë setlaars in die gebied was van Engelse afkoms.[1] Birmingham verskil opmerklik van ander stede in die Amerikaanse Suide wat sy geografiese ligging betref. Dit het nie langs die oewer van 'n rivier gegroei soos byvoorbeeld Nashville langs die Cumberlandrivier nie, maar het op die hoogtepunt van die na-oorlogse modernisering en meganisering in die Suidstate langs 'n spoorweg ontstaan.[2] Volgens sommige outeurs is Birmingham van begin af as 'n stad beplan waar vakbondlose swart bewoners uit plattelandse gebiede as goedkoop ongeskoolde mannekrag ingespan kon word om in die nuwe staalaanlegte te werk. Sodoende kon Birmingham 'n mededingende voordeel teenoor nywerheidstede in die Amerikaanse Midweste en Noordooste behaal.[3]

Vanaf sy stigting tot die laat 1960's was Birmingham een van die leidende nywerheidsentra in die Amerikaanse Suide. Sy vinnige groei in die tydperk tussen 1881 en 1920 het aan Birmingham die byname The Magic City en The Pittsburgh of the South besorg. Net soos Pittsburgh het Birmingham se ekonomie op swaar nywerhede soos staal- en ystervervaardiging gesteun. Daarnaas het ook die spoorwegbedryf 'n belangrike rol in Birmingham gespeel waar sowel spore asook treinwaens vervaardig is. Die stad was, naas Atlanta, vanaf die 1860's een van twee spilpunte van die bedryf in die Amerikaanse Suide.

Terwyl die spoorbedryf en ander nywerhede steeds 'n beduidende rol speel, het die plaaslike ekonomie in die tweede helfte van die 20ste eeu sterk gediversifiseer. Ondernemings uit die bank-, telekommunikasie-, vervoer- en elektrisiteitsbedryf het hulle hier begin vestig, terwyl ook die onderwys-, mediese en versekeringsektor uitgebrei is. Intussen word Birmingham as een van die belangrikste sakesentra in die Suidoostelike Verenigde State geranglys. Die plaaslike bankbedryf is die vierde grootste in die Verenigde State ná New York, Charlotte en Chicago.[4]

Ter geleentheid van die wêreldtentoonstelling, wat in 1904 in St. Louis, Missouri gehou is, is 'n gietyster-standbeeld van Vulcanus, die Romeinse god van vuur en grofsmede, as 'n simbool van Birmingham se swaar nywerhede op die piek van Red Mountain opgerig

Birmingham se stadsuitleg is deur die spoorweg bepaal wat deur die middestad loop en die stad in twee helftes verdeel. Die sakesentrum is noord van die spoorweg geleë, terwyl die suidelike stadsdele teen die hellings van Red Mountain oorspronklik suiwer residensieel was. Baie van Birmingham se historiese geboue moes later plek maak vir die uitbreiding van die sakekern en nywerheidsgebiede. Nadat merkwaardige historiese geboue soos Terminal Station, Tutwiler Hotel en die ou stadsaal gesloop is, het inwoners begin om hul stemme van protes teen verdere voorgestelde slopings uit te bring. In teenstelling met ander groot stede in die Suide soos Nashville en Atlanta het Birmingham sodoende baie van sy oorspronklike karakter bewaar. Ironies genoeg was die bewaring van historiese geboue ook aan Birmingham se stedelike verval in die 1960's en 1970's te danke toe groot getalle blanke bewoners na die voorstede begin verhuis het.

Birmingham het nie net 'n beslissende rol in die Amerikaanse Burgerregtebeweging gespeel nie, dit word ook as sy bakermat beskou. Tot en met 1963 was dit volgens 'n bekende uitspraak van Martin Luther King Jr. die mees gesegregeerde stad in die Verenigde State. Twee gebeurtenisse in dié jaar, waarna dikwels as die "Jaar van Birmingham" verwys word, het die einde van rasseskeiding in die VSA ingelui: 'n vreedsame massabetoging in die lente, wat deur King georganiseer is, en die Ku Klux Klan se bomaanval op 'n Baptistekerk waarin vier jong swart meisies dood is.[5]

Hierdie twee emblematiese insidente, waarna president John F. Kennedy as die events of Birmingham verwys het, het nie net nuwe stukrag aan die kwynende burgerregtebeweging verleen en die nasionale publiek se aandag op die beleid van rasseskeiding in die Amerikaanse Suide gevestig nie, maar was vir president Kennedy ook die inspirasie vir sy eie proklamasie van gelyke regte vir almal wat in 1964 as Civil Rights Act (Wet oor Burgerregte) deur die 88ste Amerikaanse Kongres aanvaar en op 2 Julie 1964 deur president Lyndon B. Johnson onderteken is. Met hierdie wet is enige diskriminasie op grond van ras, velkleur, godsdiens, geslag of etniese herkoms onwettig verklaar.

  1. Albert James Pickett: History of Alabama, and Incidentally of Georgia and Mississippi, from the Earliest Period. Oorspronklike uitgawe: Walker & James, Charleston, SC 1851. Herdrukte uitgawe: River City Publishing, Montgomery, AL 2003, bl. 686
  2. Todd Keith: Insider's Guide to Birmingham. Eerste uitgawe. Guildford, Connecticut: Insider's Guide, Morris Book Publishing 2011. Kindle e-boek-uitgawe, pos. 95
  3. Charles E. Connerly: "The Most Segregated City in America": City Planning and Civil Rights in Birmingham, 1920–1980. University of Virginia Press 2005, bl. 14
  4. Todd Keith (2011), pos. 129
  5. Diane McWhorter: Carry Me Home: Birmingham, Alabama. The Climactic Battle of the Civil Rights Revolution. New York, NY: Simon & Schuster 2001, bl. 15

Previous Page Next Page