'n Broeiparasiet is 'n voël wat haar eiers in die nes van 'n gasheer lê, sodat die gasheer dit uitbroei en ook die kuikens versorg. Die parasiet is op geen manier by die grootmaak en versorging van die kuikens betrokke nie.[1] Soms lê die voël doodgewoon hulle eiers in die nes van een van hul eie spesie, en ander kere word dit in die nes van 'n verwante of totaal ander spesie gelê. Die verskynsel word ook by sommige visspesies waargeneem.
Die verskynsel van broeiparasitisme kom veral voor by koekoeke, heuningwysers en weduweetjies soos die koningrooibekkie en paradysvink.[2] Sekere eende soos die rooikopeend (Aythya americana)[3] en swartkopeend (Heteronetta atricapilla) lê ook hul eiers in die neste van ander eendspesies, maar hierdie parasitisme veroorsaak min skade aan die gasheer, aangesien die gasheer se kuikens nie aangeval word nie, en eendkuikens ook nie gevoer word nie.