Città di Conegliano Conejàn | |
---|---|
Stad | |
![]() Die hoofwinkelstraat Via XX Settembre, tradisioneel bekend as Contrada Granda, in die Centro storico | |
Koördinate: 45°53′12″N 12°17′50″O / 45.88667°N 12.29722°O | |
Land | ![]() |
Streek | ![]() |
Provinsie | Treviso |
Regering | |
• Burgemeester | Fabio Chies (Forza Italia) |
Oppervlak | |
• Totaal | 36,38 km2 (14,05 vk. myl) |
Hoogte | 72 m (236 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 35 203 |
• Digtheid | 967,6/km2 (2 506/vk. myl) |
Tydsone | UTC+1 (MET) |
• Somertyd | UTC+2 (MEST) |
Poskode | 31015 |
Skakelkodes | 0438 |
Webwerf | comune.conegliano.tv.it |
Conegliano ([koneʎˈʎaːno]; Venesiaans: Conejàn) is 'n munisipaliteit (comune) in die provinsie Treviso, geleë in die Noord-Italiaanse administratiewe streek Veneto. Met 'n bevolking van 35 203 (soos op 30 November 2018) is Conegliano die tweede grootste nedersetting in die provinsie. Die stad, wat aan die Monticanorivier en aan die voet van die heuwelreeks Colli Veneti geleë is, net noord van Veneto se digbevolkte vlakte, word oorheers deur 'n kloktoring, die laaste oorblyfsel van 'n 10de eeuse kasteel wat op 'n heuwelpiek opgerig is en oorspronklik in besit van die biskop van Vittorio Veneto was.
Die historiese middestad of Centro storico van Conegliano is teen 'n heuwelhelling geleë, terwyl die nuwe stadsdele uitgebrei het oor die vlakte teen die voet daarvan.
Conegliano is die geboortestad van die Renaissance-skilder Giambattista Cima da Congeliano (1460−1517) wie se werke in die Accademia dell'Arte te Venesië, elders in Italië en die buiteland, waaronder Londen se National Gallery, uitgestal word. Vandag is wynbou die belangrikste bron van inkomste. Saam met Valdobbiadene vorm Conegliano die sentrum van die Venetiese prosecco-wynboustreek. Hier is in 1877 ook die oudste wynbouskool in Italië gevestig. Conegliano vorm die beginpunt van die Strada del Vino Prosecco, Italië se eerste wynroete wat in 1966 ingerig is en deur die prosecco-wyngebiede in die omgewing loop. Die Prosecco-heuwels van Conegliano en Valdobbiadene (Colline del Prosecco di Conegliano e Valdobbiadene) is in 2019 deur Unesco as 'n wêrelderfenisgebied gelys.