Dr. Ernest George Jansen (Dundee, 7 Augustus 1881 – 25 November 1959) was ’n kultuurleier, skrywer, kabinetsminister, Speaker van die Volksraad en voorlaaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika. Hoewel hy in 1934 saam met ander leiers van die Nasionale Party met die Suid-Afrikaanse Party saamgewerk het om die Verenigde Party te stig, het hy skaars vyf jaar later uit dié party bedank en teruggekeer na die sogenaamde Herenigde Nasionale Party nadat die eerste minister genl. J.B.M. Hertzog se mosie van neutraliteit in die Volksraad verslaan is en Suid-Afrika oorlog teen Duitsland verklaar het. In die vyf jaar dat hy in die Verenigde Party was, het sy vrou, Mabel Jansen, deurentyd 'n stoere Nasionalis gebly.[1]