Die Elboers (Persies: البرز, Alborz) is 'n bergreeks in Noord-Iran net suid van die Kaspiese See. Dit strek in 'n wes-oostelike rigting tussen die grens met Azerbeidjan in die noordweste tot aan die grens met Turkmenistan in die noordooste. Die hoogste bergpiek, Damavand, is met 5 610 meter bo seevlak die hoogste berg in Iran en die hele Nabye Ooste.
Die Elboers bestaan uit 'n reeks parallele bergreekse langs die suidelike oewer van die Kaspiese See. Die Elboers behoort tot 'n reeks gebergtes wat van die Armeense Hoogland in die weste oor die Elboers en die Hindoekoesj tot die Pamir in die ooste streek. Die Elboers streek oor sowat 600 km en is tussen 60 en 130 km breed. Dit behoort tot die Alpynse berggordel van Eurasië.
Die naam "Elboers" is afgelei van dié van Harā Barazaitī, 'n legendariese berg in die Avesta, die hoofteks van die Zoroastrisme. Harā Barazaitī weerkaats die Proto-Iranse *Harā Bṛzatī. *Bṛzatī is die vroulike vorm van die byvoeglike naamwoord *bṛzant- "hoog", die gerekonstrueerde stamvader van die moderne Ossetiese bærzond ("hoog", "spits"); Persies بلند barz ("hoog"), berāzande ("elegant") en Barz/Berazandeh; Koerdies barz ("hoog"); almal is verwant aan Sanskrit Brihat (बृहत्). Harā kan geïnterpreteer word as "wagter" of "beskermer", afgelei van 'n Indo-Europese wortel *ser "beskerm". In Middel-Persies het Harā Barazaitī Harborz geword, in moderne Persies Alborz, wat verwant is aan die naam van "Elbroes", die hoogste bergpiek van die Kaukasus.[1]