Elizabeth Bowes-Lyon | |
---|---|
Koningin-gemalin van die Verenigde Koninkryk; Keiserin-gemalin van Indië | |
Die koningin in 1939.
| |
Vorstehuis | Windsor |
Titels | HM die Koningin-moeder HM die Koningin HKH die Hertogin van York HKH lady Elizabeth Bowes-Lyon Die agbare Elizabeth Bowes-Lyon |
Regeer | 11 Desember 1936 – 6 Februarie 1952 |
Kroning | 12 Mei 1937 |
Volle naam | Elizabeth Angela Marguerite Bowes-Lyon |
Gebore | 4 Augustus 1900; Londen of Hitchin |
Oorlede | 30 Maart 2002 (op 101); Windsor |
Begrawe | 9 April 2002; St. George-kapel, Windsor |
Eggenoot | Koning George VI |
Kinders | Elizabeth II Prinses Margaret, Gravin van Snowdon |
Vader | Claude Bowes-Lyon, 14de Graaf van Strathmore en Kinghorne |
Moeder | Cecilia Cavendish-Bentinck |
Elizabeth Bowes-Lyon (Elizabeth Angela Marguerite; 4 Augustus 1900 – 30 Maart 2002) was van 1936 af die gade van koning George VI, tot met sy dood in 1952. Daarna was sy bekend as koningin Elizabeth die koninginmoeder[1][2][3] om verwarring te voorkom met haar dogter, Elizabeth II. Voor haar man die troon bestyg het, van 1923 tot 1936, was sy bekend as die Hertogin van York.
Elizabeth was ’n afstammeling van koning Robert I van Skotland en koning Hendrik VII van Engeland, maar was volgens die Britse wet ’n burgerlike. Sy het George V se huweliksaanbod twee keer van die hand gewys en was glo huiwerig om die opofferings te maak om ’n lid van die koninklike familie te word.[4] Ná ’n lang hofmakery het sy hom eindelik die jawoord gegee.[5]
In 1936 het haar man onverwags koning geword toe haar swaer Edward VIII geabdikeer het om te kan trou met sy minnares, Wallis Warfield Simpson, wat twee keer geskei was. As gemalin van die koning het Elizabeth haar man voor die Tweede Wêreldoorlog op diplomatieke reise na Frankryk en Noord-Amerika vergesel. Tydens die oorlog het sy met haar skynbaar onblusbare gees die moreel van die Britse volk verhoog: As ’n propaganda-instrument het Adolf Hitler haar beskryf as "die gevaarlikste vrou in Europa".[6] Ná die oorlog het haar man se gesondheid agteruitgegaan en hy is dood toe sy 51 was.
Sy was nog die volgende 50 jaar gewild terwyl ander lede van die koninklike familie wisselende grade van gewildheid geniet het. Dit was eers ná die dood van haar jongste dogter, prinses Margaret, dat dit gelyk het asof sy agteruitgaan. Sy is sewe weke ná prinses Margaret dood, op 101-jarige ouderdom.