'n Estuarium is 'n verbrede, meestal tregtervormige riviermonding, waar soet rivierwater en sout seewater vermeng en brakwater sodoende ontstaan, en waar getyverskille waarneembaar is. Wanneer 'n rivier as 'n stelsel van aftakkings uitmond staan dit bekend as 'n delta.
Estuaria is dikwels van groot waarde vir die natuur. Dit bestaan gewoonlik uit baaimodder en bedekte of onbedekte kleibanke wat ryk is aan ongewerwelde diere en onder meer voëls lok.