Filmspoed is die graad van ’n fotografiese film se gevoeligheid vir lig. Dit word volgens verskeie skale gemeet, waarvan die mees onlangse die ISO-stelsel is. ’n Verwante stelsel word in digitale kameras gebruik.
Relatief onsensitiewe films, met ’n ooreenstemmende lae ISO-nommer, vereis meer beligting om dieselfde beelddigtheid te produseer as ’n sensitiewer film, en dit word dus ’n "stadige film" genoem. Baie sensitiewe films word "vinnige films" genoem. In beide film- en digitale fotografie lei die vermindering van beligting vanweë hoër sensitiwiteit tot ’n laer beeldgehalte. Hoe hoër die sensitiwiteit, hoe "korrelriger" sal die beeld dus wees.