Johannes Kepler | |
Portret van Kepler deur 'n onbekende kunstenaar in 1620.
| |
Gebore | 27 Desember 1571 Weil der Stadt, Heilige Romeinse Ryk |
---|---|
Oorlede | 15 November 1630 (op 58) Regensburg, Heilige Romeinse Ryk |
Blyplek | Heilige Romeinse Ryk |
Nasionaliteit | Heilige Romeinse Ryk |
Vakgebied | Sterrekunde, Astrologie, Wiskunde, en naturelle filosofie |
Instelling(s) | Universiteit van Linz |
Alma mater | Universiteit van Tübingen |
Bekend vir | Kepler se wette Kepler-vermoede |
Handtekening |
Johannes Kepler (27 Desember 1571[1] – 15 November 1630[2]) was 'n Duitse[3] natuurfilosoof, wiskundige,[4] sterrekundige,[5] astroloog,[6] optikus en teoloog. Hy staan veral bekend vir sy drie sterrekundige wette. Kepler was ’n sleutelfiguur in die sogenaamde sterrekundige omwenteling van die sewentiende eeu. Hy was een van die groot sterrekundiges in die “wetenskaplike revolusie” van 1543–1700 wat die mens se begrip van die ruimte verander het.
Johannes Kepler was ’n baanbreker wat beroemd geword het vanweë sy drie wette oor die beweging van die planete. Kepler het onomstootlik bewys dat Copernicus (die vader van die moderne sterrekunde, 1473–1543) reg was omtrent die sonnestelsel. Hoewel onder meer die ou Grieke en Indiërs eeue tevore reeds die Son as die middelpunt van ons sonnestelsel uitgewys het, was dit Copernicus wat later beroemdheid verwerf het met sy opspraakwekkende teorie dat die planete in die sonnestelsel om die Son draai en nie die Son om die Aarde nie.
Kepler se wette is drie sterrekundige wette wat die beweging van die planete beskryf. Uiteindelik sou Kepler se wette die groot Engelse wetenskaplike, Isaac Newton, lei tot die formulering van die monumentale Universele Wet van die Swaartekrag.