Prof. John Murray (Graaff-Reinet, 15 September 1826 – 27 Desember 1882) was predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en een van die eerste twee hoogleraars van die Stellenbosse Kweekskool.
Murray was die oudste van die vyf seuns van ds. Andrew Murray sr. wat almal predikant geword het. Die ander vier was William, George, Charles en die bekendste, dr. Andrew Murray. John vertrek in 1838 op 12-jarige ouderdom saam met die tweede oudste broer, Andrew, na Skotland, vanwaar hulle vader in 1822 as een van die eerste predikant na die Kaap gekom het, om daar onderrig te word. Albei broers het teen 1845 die M.A.-graad in Aberdeen behaal en vertrek saam na Holland om daar aan die Universiteit van Utrecht vir predikant te leer. In 1848 maak hy in sy briewe aan sy vader op Graaff-Reinet melding van die noodsaaklikheid van 'n teologiese seminarie vir Suid-Afrika.
Die volgende jaar aanvaar hy kort na sy terugkoms in Suid-Afrika 'n beroep na die NG gemeente Burgersdorp, wat net drie jaar vantevore gestig is. Hy word op 27 Mei 1849 bevestig en arbei nege jaar lank daar. In November 1858 vestig hy hom op Stellenbosch om een van die eerste twee hoogleraars aan die Kweekskool te word saam met prof. Nicolaas Hofmeyr.
Murray gaan in 1881 weens swak gesondheid na Skotland. Hy sterf op 27 Desember 1882 kort na sy terugkeer na Suid-Afrika. Ten tyde van sy dood was hy steeds professor aan die Kweekskool.
Van hom is gesê[1] dat sy nougesette pligsbesef gepaard gegaan het met 'n heldere en nugtere verstand en 'n innige godsvrug. Boonop was hy besadig en allermins 'n stryder. "Als anderen vol vuur te wapen liepen en in de bresse sprongen, dan zag hij dit rustig aan, en ging bedaard voort met het opbouwen der muren van de gevallen vesting. Hij hanteerde niet het zwaard, maar de troffel. Hij was niet krijsman, maar arbeidsman."
Sy skoonseun was ds. Pieter van der Merwe, van 1896 tot 1904 die sesde predikant van die NG gemeente Beaufort-Wes.