Jukskei is 'n spansport wat inheems aan Suid-Afrika is en word deur mans, vrouens en kinders gespeel. Die spel is 'n somersport en word deur twee spanne van vier spelers elk met twee rubber- of houtskeie gespeel wat tussen 11 en 16 meter na 'n houtpen in 'n sandput gegooi word. Sedert die ontstaan van jukskei het dit ontwikkel tot 'n sport wat 'n hoë mate van kundigheid en vaardigheid van die speler vereis. Die spel word vandag ook in Namibië, Zimbabwe en Amerika gespeel.