Kamtsjatka-skiereiland полуостров Камчатка | |
---|---|
Die skiereiland in die winter. 'n Nasa-satellietbeeld | |
Geografie | |
Ligging | Rusland, Stille Oseaan |
Koördinate | 57°N 160°O / 57°N 160°O
|
Oppervlakte | 270 000 vk km |
Hoogste punt | Kljoetsjefskaja Sopka 4 750 m |
Administrasie | |
Rusland | |
Krai | Kamtsjatka
|
Hoofstad | Petropawlofsk-Kamtsjatski |
Grootste stad | Petropawlofsk-Kamtsjatski (179 807)
|
Demografie | |
Bevolking | 322 079
|
Bevolkingsgroepe | Russe, Oekraïners, Korjakke, Itenmene, Ewene, Aleoete en Tsjoektsje |
Die Kamtsjatka-skiereiland (Russies: полуостров Камчатка, poloe-ostrof Kamtsjatka [pəlʊˈostrəf kɐmˈt͡ɕætkə]), is ’n 1 250 km lange en maksimaal 450 km breë bergagtige skiereiland in die Russiese Verre-Ooste geleë, nege tydsones oos van Moskou. Met ’n oppervlakte van 370 300 km² is Kamtsjatka die grootste skiereiland in Rusland ná Taimir, met 'n bevolking wat op sowat 400 000 beraam word.
Die reistyd van vlugte van die Internasionale Ted Stevens-lughawe in Anchorage, Alaska – 'n seisoenale roete wat in die somer deur Yakutia Airlines bedien word – is net die helfte so lank.[1]
Die oorspronklike administratiewe eenheid of oblast Kamtsjatka bestaan van 1932 af, aanvanklik met 'n oppervlakte van 473 300 km². Dit is in 1991 opgedeel in Kamtsjatka (179 737 km²) en Korjakië (292 563 km²). As gevolg van 'n verdere administratiewe hervorming vorm die Kamtsjatka-skiereiland, die Kommandeur-eilande (Kommandorskije ostrawa) en die Karaginski-eiland sedert 1 Julie 2007 die Kamtsjatka-krai van Rusland.
Die oorgrote meerderheid van Kamtsjatka se bevolking is Russe, terwyl die inheemse bevolking uit drie etniese hoofgroepe bestaan – Ewene, Itelmene en Korjakke.[2] Meer as die helfte van die totale bevolking is in Petropawlofsk-Kamtsjatski en die nabygeleë Jelizowo saamgetrek. Die skiereiland se lughawe is ook hier geleë. Die res van die bevolking – sowat 50 000 bewoners – woon in kleiner nedersettings wat versprei lê oor die hele skiereiland. Bewoners deel die gebied met die wêreld se grootste bruinbeerbevolking. Kamtsjatka-bere is – saam met Kodiakbere wat op die Amerikaanse deelstaat Alaska se Kodiak-argipel aangetref word – die grootste bere op aarde.
Die krai se hoofstad is genoem na die twee skepe, die Sint Pieter en Sint Paulus, waarmee die Deens-Russiese ontdekkingsreisiger Vitus Bering gedurende sy Groot Nordiese Ekspedisie in 1741 vir die eerste keer na Alaska geseil het. Kamtsjatka self is teen die middel van die 17de eeu deur Russiese Kosakke ontdek. Sedert 1697 maak die skiereiland deel uit van Rusland – veral danksy die strategiese ligging van Kamtsjatka en sy rykdom aan pelsdiere. In geopolitiese en militêr-strategiese opsig was Kamtsjatka vanweë sy status as grensstreek, wat beveilig moes word, en sy vlootbasis van groot belang vir sowel die keiserryk as die Sowjetunie.