Voor Kopernikus het die mense op aarde 'n geosentriese beskouing gehad (die aarde staan stil en alles draai daarom). Toe Kopernikus 'n heliosentriese beskouing voorstel (die aarde draai om die son), was dit 'n kontroversiële kwessie, want dit het in effek beteken dat die aarde sy spesiale posisie in ons sonnestelsel afgestaan het.
Wetenskaplikes het hierdie idee verder oorweeg en neem vandag aan dat nóg die aarde nóg enige ander planeet of hemelliggaam 'n spesiale posisie in die heelal het. Hulle noem dit die Koperniese beginsel (Engels: Copernican principle). Die Koperniese beginsel word soms ook die beginsel van middelmatigheid genoem. LW. dat die Koperniese beginsel nié dieselfde is as 'n heliosentriese beskouing nie: 'n heliosentriese beskouing dui slegs daarop dat die aarde nie in die middel van ons sonnestelsel is nie.
Die Koperniese beginsel is 'n filosofiese aanname (soos Stephen Hawking en George Ellis in hulle boek The Large Scale Structure of Space-Time erken). Die feit dat die aarde nie in die middel van ons sonnestelsel is nie, sê niks oor die aarde se posisie in die heelal nie. Die Koperniese beginsel is soos Richard Feynman[1] sê, heel waarskynlik 'n oordrewe verwerping van geosentrisme. Dit word baie goed deur Richard Gott gedemonstreer.
Hoe wetenskaplikes dit verklaar dat geen hemelliggaam 'n spesiale plek in die heelal het nie, is deur die heelal voor te stel as 'n ballon wat opgeblaas word: Die rubber van die ballon is die driedimensionele heelal wat ons vandag sien. Die lug binne en buite die ballon is 'n vierde dimensie. In so 'n model het die heelal nie 'n middelpunt nie, net soos 'n sirkel nie 'n begin- of eindpunt het nie.