In optika is ’n lensopening ’n gat of opening waardeur lig skyn. Dit is in ’n optiese stelsel meer spesifiek die opening wat die keëlhoek van ’n bondel ligstrale bepaal wat op die beeldvlak fokus. Die lensopening bepaal hoe gekonsentreer die lig is wat deurgelaat word en dit is belangrik vir hoe die beeld op die beeldvlak lyk.[1] As die lensopening klein is, is die lig baie gekonsentreer en dit het ’n skerp fokus op die beeldvlak tot gevolg. As die opening groot is, is die lig minder gekonsentreer en net strale met ’n sekere fokuslengte sal dan skerp wees. Met ’n groot opening word dus ’n beeld verkry wat skerp is rondom die voorwerp waarop die lens fokus, en andersins dowwer. Die lensopening bepaal ook hoeveel ligstrale deurgelaat word en dus hoeveel lig die beeldvlak bereik (hoe kleiner die lensopening, hoe donkerder is die beeld en hoe groter die lensopening, hoe helderder die beeld vir ’n spesifieke beligtingstyd). In die menslike oog is die pupil die lensopening.
’n Optiese stelsel het gewoonlik baie openinge, of strukture wat die deurlaat van lig beperk. Dit kan die kant van ’n lens of spieël wees, of ’n ring of ander toestel wat ’n optiese element in posisie hou. Dit kan ook ’n spesiale element soos ’n diafragma wees wat in die optiese pad geplaas word om die lig wat deurgelaat word te beperk.
In sommige gevalle, soos fotografie en sterrekunde, kan "lensopening" verwys na die deursnee van die diafragma eerder as die opening self. In ’n teleskoop is die lensopening byvoorbeeld gewoonlik die kante van die objektieflens of spieël. ’n Mens kan dan sê die teleskoop het ’n "lensopening" van byvoorbeeld 100 cm.