'n Maanlanding is die landing van 'n ruimtetuig, beman of onbeman, op die oppervlak van die Maan. Dit was 'n doel van die mensdom sedert dit geblyk het dat die Maan die Aarde se naaste hemelliggaam is. Een van die duidelikste vroeë voorbeelde van die idee was in Jules Verne se 1865-roman De la Terre à la Lune ("Van die Aarde na die Maan"). Sedert die Sowjetunie se eerste suksesvolle onbemande landing in 1966, was daar 18 maanlandings tot in 1976. Nege van hierdie sendings het na die aarde teruggekeer met monsters van maanrotse.
Die eerste bemande maanlanding was deur die Amerikaners Neil Armstrong en Buzz Aldrin. Op 20 Julie 1969 teen 4:17 n.m. (OST) het sendingbevelvoerder Armstrong en vlieënier Aldrin die maanlandingstuig, Eagle, op die oppervlak van die Maan geland terwyl hulle medespanlid, Michael Collins, die bevelvoeringsmodule, Columbia, beheer het. Hulle het 'n dag op die oppervlak van die Maan deurgebring en daarna na die Aarde teruggekeer. Met dié landing (wat deel gevorm het van die Apollo-program) het die Amerikaners sukses behaal in die ruimtewedloop teen die Sowjetunie. Altesaam ses sulke bemande maanlandings is tussen 1969 en 1972 uitgevoer. Die Sowjetunie het later monsters teruggebring deur die onbemande landings van Luna 16, Luna 20 en Luna 24.
Vooruitgang in ruimte-ontdekking het intussen die term uitgebrei om ook landings op ander mane in die Sonnestelsel in te sluit. Die Huygens-sondeerder van die Cassini-missie na Saturnus het in 2005 'n suksesvolle onbemande landing op Titaan uitgevoer. Die Amerikaanse ruimtebeleid, die Vision for Space Exploration, het gehoop om teen 2015 bemande sendings na die Maan te stuur, wat vir toenemend langer tydperke daar sal kan werk, maar dit het nie gerealiseer nie.[1]