Mohammad Reza Shah Pahlavi | |
---|---|
Sjah van Iran | |
Mohammad Reza Shah Pahlavi in 1973
| |
Vorstehuis | Pahlavi |
Titels | Sy Keiserlike Majesteit Sjahansjah ("koning van konings") Aryamehr ("Lig van die Ariërs") Bozorg Arteshdārān ("Hoof van die Krygers") |
Regeer | 26 September 1941 - 11 Februarie 1979 |
Kroning | 26 Oktober 1967 |
Voorganger | Reza Shah |
Opvolger | Titel afgeskaf |
Gebore | 26 Oktober 1919; Teheran, Iran |
Oorlede | 27 Julie 1980; Kaïro, Egipte |
Eggenoot | Fawzia Foead van Egipte (1939-1948) Soraya Esfandiary Bakhtiary (1951-1958) Farah Diba (1959-1980) |
Kinders | Shahnaz Pahlavi Reza Pahlavi Farahnaz Pahlavi Ali-Reza Pahlavi Leila Pahlavi |
Vader | Reza Pahlavi |
Moeder | Tadj ol-Molouk |
Laaste rusplek | Al-Rifa'i-moskee, Kaïro, Egipte |
Mohammad Reza Shah Pahlavi (Persies: محمد رضا شاه پهلوی, [mohæmˈmæd reˈzɒː ˈʃɒːhe pæhlæˈviː]; 26 Oktober 1919 - 27 Julie 1980), ook gespel Mohammed Reza Sjah Pahlevi, was van 16 September 1941 die sjah van Iran totdat sy bewind op 11 Februarie 1979 in die Irannese Rewolusie omvergewerp is. Hy was die tweede en laaste Irannese heerser uit die Pahlavi-dinastie.
Pahlavi het verskeie amptelike titels gehad: Sy Keiserlike Majesteit, Sjahansjah ("koning van konings" of "keiser"), Aryamehr ("Lig van die Ariërs") en Bozorg Arteshdārān ("Hoof van die Krygers").
Hy het die Irannese troon bestyg nadat sy pa, Reza Shah, ná 'n Anglo-Sowjet-Russiese inval gedurende die Tweede Wêreldoorlog geabdikeer het. Tydens Mohammad Reza se bewind is die Irannese oliebedryf tydelik deur die demokraties verkose regering van premier Mohammad Mossadegh genasionaliseer. In 1953 is die Mossadegh-regering deur 'n staatsgreep, wat deur die Britse en Amerikaanse regerings gesteun is, omvergewerp, en buitelandse oliemaatskappye het na Iran teruggekeer.
As heerser het Mohammad Reza Pahlavi die oorgang van 'n konstitusionele monargie na 'n outoritêre bewind bestuur. Sy Wit Rewolusie, 'n reeks ekonomiese, sosiale en politieke hervormings, was daarop gemik om van Iran 'n streeksmoondheid van globale betekenis te maak en die land deur die nasionalisering van sekere bedrywe en die invoering van vrouestemreg te moderniseer.
As wêreldlike Moslem het hy gaandeweg die steun van Iran se geestelikheid, maar ook die werkersklas verloor, veral weens sy beleid van modernisering, sekularisering, die weerstand van Iran se invloedryke klas van bazaarhandelaars (bazaaris), die erkenning van Israel en 'n reeks korrupsieskandale, waarin hy en sy familie net soos die heersende elites betrokke was.
Ander omstrede beleide was die verbod op die kommunistiese Tudeh-party en die algemene onderdrukking van politieke teenstanders deur die berugte veiligheidsdiens SAVAK. Die getal politieke gevangenes, wat in 1978 volgens amptelike statistieke op 2 200 gestaan het, het ná die Rewolusie vinnig gestyg. Die noue politieke bande met die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk het eweneens sterk kritiek by sekere belangegroepe uitgelok en tot aktiewe kommunistiese weerstand gelei.
In 1979 het politieke onluste uitgebrei tot 'n rewolusie, en op 17 Januarie was die sjah genoodsaak om Iran te verlaat. Die monargiese regeringstelsel is kort daarna afgeskaf en deur 'n Islamities-republikeinse regeringstelsel onder leiding van Ajatolla Khomeini vervang. Mohammad Reza Pahlavi het reeds voor die rewolusie aan kanker gely, 'n siekte waaraan hy in 1980 beswyk het nadat hy asiel in Egipte ontvang het.
Dikwels word na Mohammad Reza Pahlavi as "die laaste Sjah van Iran" of net "die Sjah" verwys.