Die NG gemeente Hanover is ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Karoodorp Hanover, presies halfpad tussen Kaapstad en Johannesburg. Van die nasionale pad af kan die reisiger die kerktoring duidelik tussen twee koppies afgeteken sien staan. Dié besonderse kerk, ontwerp deur die gebore Australiër William Henry Ford, is in 1907 in die dienstyd van ds. S.P. Fouché teen ’n koste van £8 530 opgerig.