Nefertari | |
---|---|
Groot koningsvrou Dame van die Twee Lande Meesteres van Bo- en Benede-Egipte | |
'n Grafkeldermuur wat Nefertari, die groot koningsvrou van farao Ramses II, uitbeeld.
| |
Volle naam | Nefertari Meritmoet |
Sterfdatum | Omstreeks 1255 v.C. |
Begrawe | QV66, Vallei van die Koninginne, Thebe |
Gade | Ramses II |
Dinastie | 19de Dinastie van Egipte |
Nefertari, ook bekend as Nefertari Meritmoet, was 'n Egiptiese koningin en die eerste van die Groot Koningsvroue (hoofvroue) van Ramses die Grote.
| ||||||
Nefertari-Meritmoet (Nfrt jrj mrjt n Mwt) in hiërogliewe |
---|
Sy is een van die bekendste antieke Egiptiese koninginne, saam met vroue soos Cleopatra, Nefertiti en Hatsjepsoet, en een van die prominentstes wat sover bekend nie uit eie reg regeer het nie.
Sy was hoogs opgevoed en kon Egiptiese hiërogliewe lees en skryf, 'n skaars talent in haar dae. Sy het dié vaardighede in haar diplomatieke werk gebruik en met ander hoë koninklikes gekorrespondeer. Haar ryklik versierde grafkelder, QV66, is een van die grootstes en skouspelagtigstes in die Vallei van die Koninginne. Ramses het ook 'n tempel vir haar laat bou by Aboe Simbel, langs sy reusagtige monument daar.