'n Ondergrondse boom of ploegbreker is 'n plantspesie wat eintlik 'n boom is, maar waarvan net die kroon bogronds sigbaar is.[1]
Hulle kom in grasveld-biome voor, veral in die Afrikasavanne. In die wetenskap word hulle pyrogenic geoxylic suffrutices of geoksiele[2] genoem, omrede hulle ondergrondse houtige weefsels (xylos is hout in Grieks) het. Ondergrondse bome lyk bogronds soos klein takkies of struikies wat uit die grond groei, maar hulle is eintlik die uitlopers van 'n groot boom wat nie sigbaar is nie. Die hele area kan net een organisme wees. Ondergrondse bome kan baie oud word. Van hierdie bome het 'n beraamde ouderdom van ongeveer 13 000 jaar. Die grond beskerm hulle teen veldbrande en beweiding, omrede net die bogrondse dele aangetas kan word. Amper die enigste ding wat hulle kan dood is die mens se ploeg. In grond wat geploeg is, groei hulle nie terug nie. Dit is hoekom die ploeg 'n graslandbioom blywend kan verander.[3]
Voorbeelde van ondergrondse bome is vyf van die ses spesies plante wat gousiekte veroorsaak. Net die gousiekteboom is 'n 'gewone' bogrondse boom.[4] 'n Ander voorbeeld is die ploegbreker self, wat 'n ondergrondse koraalboom is wat baie ploeë gebreek het.
Geoksiele word in verskeie ordes van die eudikotiele aangetref: Asterales, Gentianales, Dillenales, Myrtales, Brassicales, Sapindales, Celastrales, Oxidales, Fagales, Rosales en Fabales. Dit wil sê dat hierdie verskynsel verskeie kere onafhanklik ontstaan het en dit is moontlik dat plante teruggekeer het na 'n lewenswyse as 'gewone' boom.[5]