Psigopatie (of sosiopatie) word tradisioneel gedefinieer as ’n persoonlikheidsteuring wat gekenmerk word deur langdurige antisosiale gedrag, min empatie en berou, asook ongeïnhibeerde of vreeslose optrede. Dit kan ook gedefinieer word as ’n persoonlikheidsaspek wat in ’n groot verskeidenheid kombinasies in mense in die algemeen voorkom. Die definisie van psigopatie het deur die geskiedenis aansienlik verander; verskillende definisies word steeds gebruik wat net gedeeltelik oorvleuel en mekaar soms weerspreek.[1]
Die Amerikaanse psigiater Hervey M. Cleckley se navorsing oor psigopatie het waarskynlik die aanvanklike kriteria vir antisosiale persoonlikheidsteuring in die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM) beïnvloed, so ook dié van die Amerikaanse sielkundige George E. Partridge oor sosiopatie. Die DSM en Internasionale Klassifikasie van Siektes (ICD) het die diagnose "antisosiale persoonlikheidsteuring" en "dissosiale persoonliheidsteuring" opgeneem; volgens hulle is voorheen daarna verwys as psigopatie of sosiopatie.[1][2][3][4] Die Kanadese sielkundige Robert D. Hare het later die begrip psigopatie in kriminologie weer gewild gemaak met sy Psychopathy Checklist.[1][5]
Hoewel geen psigiatrie- of sielkunde-organisasie ’n diagnose soos psigopatie goedkeur nie, word die beoordeling van psigopatiese karaktertrekke algemeen gebruik in die regstelsel van verskeie lande, en dit kan aansienlike gevolge inhou vir individue wat beoordeel word.[5] Die term word ook algemeen deur die publiek gebruik, asook in media en fiksie.[6]