Rembrandt van Rijn | |
---|---|
Selfportret (1661) | |
Geboortenaam | Rembrandt Harmenszoon van Rijn |
Gebore | Leiden, Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande (tans Nederland) | 15 Julie 1606
Sterf | 4 Oktober 1669 (op 63) Amsterdam, Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande (tans Nederland) |
Nasionaliteit | Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande |
Veld | Skilder, drukkuns |
Beweging | Nederlandse goue era Barok |
Werke | De anatomische les van Dr. Nicolaes Tulp, 1632 Het feestmaal van Belsazar, 1635 De Nachtwacht, 1642 Bathseba met de brief van koning David, 1654 De Staalmeesters, 1662 |
Rembrandt van Rijn (15 Julie 1606 – 4 Oktober 1669) was 'n Nederlandse skilder en etser. Hy word oor die algemeen as een van die beste skilders in die geskiedenis van Europese en Nederlandse kuns beskou[1] en die belangrikste Hollandse meester van die 17de eeu. Sy bydraes tot kuns was tydens die sogenaamde Nederlandse Goue Eeu, 'n tydperk in die 17de eeu wat die hoogtepunt van die Nederlandse kultuur, wetenskap, handel en mag gevorm het. Hy het in totaal ongeveer 300 skilderye, 300 etse en 2000 tekeninge geskep. Sy werk behoort tot die Barokstyl en is beïnvloed deur die Italiaanse skilder Caravaggio (1571 - 1610). Hy was die enigste Hollandse skilder wat sy werke met sy voornaam onderteken het.
Rembrandt het reeds in sy jeug sukses behaal as 'n portretskilder, maar sy latere jare is gekenmerk deur persoonlike tragedie en finansiële teëspoed. Sy tekeninge en skilderye was egter steeds gewild tydens sy eie leeftyd en hy het 'n hoë reputasie as kunstenaar geniet.[2] Vir twintig jaar lank het hy byna elke belangrike Nederlandse skilder opgelei.[3] Voorbeelde van Rembrandt se grootste kreatiewe seges is sy portrette van tydgenote, selfportrette en illustrasies van Bybeltonele. Die selfportrette vorm 'n unieke en intieme biografie, waarin die kunstenaar homself sonder ydelheid en met opregtheid beskou het.[1]
In sy werke het Rembrandt 'n volledige kennis van klassieke ikonografie tentoongestel, maar dan aangepas tot die vereistes van sy ervaring. Dus was die uitbeelding van 'n Bybeltoneel gebaseer op Rembrandt se kennis van die teks, sy assimilasie van klassieke komposisie en sy waarnemings van die Joodse bevolking van Amsterdam.[4]