Ruimtestof of kosmiese stof is deeltjies in die ruimte wat wissel van ’n paar molekules tot 0,1 mikrometer (µm). Dit kan enige stof in die kosmos wees, of beperk tot ruimtestof in ons sonnestelsel.
Stof kan verder opgedeel word na gelang van waar dit voorkom: intergalaktiese (tussen sterrestelsels), interstellêre (tussen sterre), interplanetêre (tussen planete) en sirkumplanetêre stof (soos in ringe om ’n planeet). In ons eie sonnestelsel veroorsaak interplanetêre stof die sodiaklig. Bronne van stof in die sonnestelsel is komete, asteroïdes, die Kuiper-gordel en interstellêre stof wat deur ons stelsel beweeg. Daar val sowat 40 ton ruimtestof per dag op die Aarde.
Wetenskaplikes het ruimtestof eers as lastig beskou omdat dit hulle soms gekeer het om voorwerpe van belang te bestudeer. Toe begin is met infrarooi astronomie, het hulle besef hoe belangrik en noodsaaklik dié stof is. Dit speel ’n groot rol in ster- en planeetformasie, die sodiaklig, komete en planetêre ringe.
Die bestudering van ruimtestof is ’n omvattende navorsingsveld wat verskeie wetenskappe behels: etlike terreine van fisika, elektromagnetisme, wiskunde, chemie en meteoritika, sowel as elke tak van die astronomie en astrofisika.[1]