Sakurajima | |
---|---|
Ligging | Kagoshima-prefektuur, Japan |
Hoogte | 1 117 meter bo seevlak |
Koördinate | 31°34′50″N 130°39′29″O / 31.58056°N 130.65806°O |
Bergtipe | Somma-stratovulkaan |
Laaste uitbarsting | 1955 tot 2021 (tans)[1] |
Ligging in Japan. |
Sakurajima (Japannees: 桜島, letterlik "Kersiebloeiseleiland") is 'n aktiewe stratovulkaan, voorheen 'n eiland en nou 'n skiereiland, in Kagoshima-prefektuur in Kyushu, Japan.[2] Die lawastrome van die uitbarsting in 1914 het dit met die Osumi-skiereiland verbind.[3] Dit is die aktiefste vulkaan in Japan.[4]
In April 2021 het die vulkaan steeds uitgebars[5] en as op die omgewing laat neerstort. Vroeëre uitbarsings het die witsandhooglande in die streek geskep. Op 13 September 2016 het 'n span kenners van die Universiteit van Bristol en die Sakurajima-vulkaannavorsingsentrum in Japan gesê die vulkaan kan binne 30 jaar 'n groot uitbarsting hê; twee uitbarstings het sedertdien voorgekom.[6]
Sakurajima is 'n stratovulkaan. Dit het drie pieke: Kita-dake (noord), Naka-dake (sentraal) en Minami-dake (suid), wat nou aktief is.
Kita-dake is Sakurajima se hoogste piek; dit styg tot 1 117 m bo die seevlak. Die voormalige eiland is deel van die stad Kagoshima.[7] Die oppervlakte van die huidige skiereiland is sowat 77 km2.